Vrou sterf in ongeluk op M1

Drie motors was Vrydag in ’n botsing op die M1-Suid naby die Riviera-afrit in Killarney, Johannesburg, betrokke. (ER24)

’n Vrou is dood en drie ander mense beseer nadat drie motors Vrydag in ’n botsing op die M1-Suid naby die Riviera-afrit in Killarney, Johannesburg, betrokke was.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder vir ER24, was nooddienswerkers na ’n ander voorval onderweg toe hulle op dié ongelukstoneel afgekom het.

“Daar was twee ligte voertuie en ’n bakkie in die stadige baan en noodbaan op die hoofweg. ’n Vrou was in een van die voertuie vasgekeer, terwyl twee mans en nog ’n vrou op die toneel rondgeloop het.

“Nooddienswerkers het die pasiënte ondersoek, maar kon niks doen vir die vrou wat in die motor vasgevang was nie, aangesien sy reeds aan haar wonde beswyk het. Sy is op die toneel dood verklaar.”

Volgens Meiring moes spesiale toerusting gebruik word om die vrou uit die motor te bevry.

“Die ander mense het matige beserings opgedoen en is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer nadat hulle op die toneel behandel is.”

Volgens Meiring was lede van die polisie ook op die toneel. Die polisie kon egter nie verdere inligting aan Maroela Media verskaf nie.

Volgens kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, is daar nog nie ’n verslag oor dié voorval ontvang nie. Dit is dus nog onduidelik wat tot die ongeluk gelei het en of die voorval ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.