Vrou sterf in Sasolburg-botsing

Paramedici op die toneel. Foto: Verskaf

ʼn 48-jarige vrou is dood en ʼn 24-jarige man lig beseer toe twee voertuie Saterdagoggend op die R59-pad buite Sasolburg in die Vrystaat gebots het.

Ineke van Huyssteen, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het omstreeks 06:00 by die toneel in die Vaalpark-omgewing opgedaag en een van die motors se wrakke in die pad aangetref en een in die veld.

“Die vrou is op die grond buite haar voertuig in die veld aangetref. Omstanders het haar vermoedelik uit die voertuig se wrak gehaal. Daar was ongelukkig niks wat vir haar gedoen kon word nie en sy is op die toneel dood verklaar,” het Van Huyssteen gesê.

“Die man het steeds in sy voertuig gesit. Hy het geringe beserings opgedoen en is met ʼn ambulans na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.”

Die presiese omstandighede rakende die ongeluk is onbekend, maar die polisie was op die toneel en stel ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Peet Schabort ·

Tragies . . . Het die ongeluk gebeur tussen Vaalpark en Vereeniging op die gedeelte vd R59 waar daar slegs enkelbane is in beide rigtings? Hierdie is ‘n gevaarlike stuk pad en met misweer uiters gevaarlik. Indien wel en in ieder geval plaas ek die talle ongelukke wat hier gebeur (het) voor die deur vd die betrooke owerhede wat versuim om ‘n volwaardige dubbelbaanpad in beide rigtings te bou.

Koos ·

‘n Pad is soos ‘n vuurwapen. Net so gevaarlik as die een wat hom gebruik. Moenie die pad blameer nie, blameer die motoriste wat soos paloekas bestuur. Die spoedperk daar is 100 km/u en die probleem is selfsugtige en roekelose bestuurders.

pieter ·

Stem saam met peet hoeveel mense moet nog op di pad sterf – kort dubbel pad en dan nog is di gras so lank en omtrent op teervlak dat mens nie kan sien wat voor aangaan ni bv staan da n voertuig ens dit kan nie gesien word nie gras te lank en ja die pad dra verskriklik swaar verkeer waar voertuie nie di volg afstand hou ni iets moet dringend gedoen word en bygese die r57 na van derbijlpark raak net so sleg met al die slaggate

Koos ·

Die R57 se toestand is skokkend inderdaad. Die R59 oppad na Sasolburg moet verbreed word, maar bestuurders wat ongeduldig is en soos maniakke verbysteek het geen verskoning nie.

jakes ·

Die redes vir sulke tragiese ongelukke is een van die volgende. Geweldig vining gejaag, praat op selfoon terwyl bestuur of onder die invloed van drank bestuur. Dit is uiters seldsaam dat ongelukke gebeur agv tegniese foute met die motor, SA se bestuurders word as van die swakste ter wereld bestempel en gegewe die feit dat meer as 70 % hul bestuurslisensies koop is n bewys daarvan.

Peet Schabort ·

Toegegee Koos en Jakes maar moenie ‘n pad bou met weerskante snelwegstandaarde en in die middel ‘n bottelnek. Motoriste word bederf met ‘n goeie pad en dan skielik vasgevang agter stadige voertuie en ons weet dat geduld nul is. K53 is ook nutteloos en los jou met ‘n lisensie waar jy dan op die harde manier met padvarke te doene kry. Gedurende eerskomende Junie sal ek 58 jaar op die pad wees sonder ‘n ongeluk maar met ‘n hele paar amper-ongelukke! Onthou ook dat die kind kyk hoe die ouers bestuur en dieselfde truuks uithaal. Ek sien gister hoe die laaitie (so 8 jaar oud) voor sit en die armpies en kop lustig in die wind buite die voertuig waai. Kyk maar hoeveel ry met ‘n armpie en hand wat rondwaai. Selfs net jou elmboog buite kan maak dat jy groot probleme optel soos iemand ondervind het toe ‘n vragmotor van voor se deur oopgegaan het reeds op daardie verbygaan en sy elmboog vergruis het. Ja, ons is baie aangewese op onsself maar ook ander op die pad en bowenal die Genade van Bo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.