ʼn Vrou is Dinsdag dood tydens ʼn trompop botsing met ʼn petroltenkwa op die M7 tussen Pinetown en Durban in KwaZulu-Natal.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die vrou was op pad in die rigting van Pinetown toe haar motor in die aankomende verkeer geswenk het en voor die petroltenkwa beland het.
Die motor en die tenkwa het ná die botsing deur versperrings langs die pad gebars en albei wrakke het ʼn entjie van ʼn 30 m helling na ʼn erf tot stilstand gekom.
“Die vrou is tydens die impak uit die motor geslinger en haar liggaam is in bosse ʼn paar meter van die wrak af gevind. Sy was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het,” het Botha gesê.
Die polisie ondersoek die oorsaak van die ongeluk.