Vrou sterf, man sak inmekaar op toneel

Die toneel. Foto: Netcare 911.

ʼn 29-jarige vrou het Maandagoggend verongeluk nadat sy glo weens die nat weerstoestande beheer oor haar motor verloor het.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het omstreeks 08:15 op die N2-noord by die Doonside-afrit in KwaZulu-Natal plaasgevind.

“Dit blyk dat sy op pad was na Amanzimtoti toe haar voertuig buite beheer geraak het in die nat weer en die kant van die voertuig teen ʼn sementbrug vasgeslaan het,” het Botha gesê.

“Die vrou is met paramedici se aankoms op die toneel dood verklaar. Ons was steeds op die toneel  toe haar man daar opgedaag het,” het Botha gesê.

Volgens Botha was die man uiters getraumatiseerd en het op die toneel inmekaargesak. Paramedici het hom op die toneel gestabiliseer en na ʼn plaaslike hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

Volgens Botha het Netcare 911 reeds talle pasiënte op verskeie tonele behandel weens die nat weer.

Paramedici het motoriste gemaan om spoed te verminder, hul volgafstand te vergroot en hul motors se kopligte aan te skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris ·

Ek is jammer oor die dame haar lewe in die ongeluk verloor het. Elke ongeluk waarin iemand oorlede is, is tragies. Ek weet nie wat haar omstandighede was wat tot die ongeluk gelei het nie, maar in die meeste gevalle is dat die mense te vinnig ry. Ek woon in Durban en is elke keer wanneer dit reen verbaas oor hoe vinnig die mense in die reen ry. Spoed onbevoeg te bestuurders en roekeloosheid is hoofsaaklik die oorsake van ongelukke.

Jaco ·

Ag nee!….Dis verskriklik!! My innige meegevoel aan haar naasbestaandes. Dit moet uiters traumaties wees vir iemand om n geliefde so te sien sterf.

Chris Noordkus ·

Ek kan nie meer met jou saam stem nie, dit verstom my dat motoriste in hierdie provinsie vinniger ry as dit reen ten spyte van al die media dekking/ versoeke om stadiger te ry ,volg afstande te hou en dies meer. Luister gerus na die verkeers verslae op ECR op dae soos die afgelope naweek ‘n mens kan die plekke waar ongelukke voorkom selfs voorspel.

Francois le Cochon ·

Tragies, my simpatie. Spoedgrense is slegs van toepassing in die mees gunstigde toestande, soos in die dag en in mooi weer. Indien toestande minder gunstig raak, soos in die nag of slegte weer, moet ‘n motoris dienooreenskomstig spoed verminder.

Chantelle ·

Aaaai. Dit is so tragies en hartseer. My innige simpatie en meegevoel aan haar geliefdes. Ek was ‘n BMW Advanced Driver Trainer en moes mens opleiding gee hoe om nat, hoë spoed, bande wat bars, kapings, beheer verloor oor voertuie, sand, klippe watookal te vermy en ek sê nog tot vandag toe nog moet dit ‘n vereiste wees dat mens eers Advanced Driving doen voordat jy gaan vir jou bestuurslisensie. Ek sê nie dit gaan ongelukke heeltemal uitskakel nie want dit gebeur so vinnig maar as mens net effe van daai kennis kan toepas kan dit moontlik soveel dode op die paaie verminder want soveel mense is onbewus van hoe om ‘n kar te hanteer in nat omstandighede of gebarste buitebande ens. Kan dit nie ‘n Wet of vereiste gemaak word nie?

DEON ·

Daar word gesê: “Verminder spoed en skakel hoofligte aan”. Sommige mense in ons land dink as hulle kan sien dan hoef hulle nie hoofligte aan te skakel nie. Dit gaan nie oor of jy kan sien nie, dis om jouself sigbaar te maak vir ander. Baie taxis sit net parkeerligte aan en dan ry hulle tot stikdonker nog so. Ongelukkig is die verkeersowerheid ook van die taxi eienaars se familie en hulle vat nie familie vas nie……..sê maar net.

Carel ·

Baie tragies!
Ons weet wat is ‘n motor se ligte, maar wat is sy kopligte?

Adel ·

My diepste medelye met hierdie man, dit moet verskriklik wees om jou lewensmaat so te sien……

Nettie ·

Hartseer …. Sterkte aan die man! Ai, kan ons nie maar ‘n bietjie van daardie baie reën in KZN kry hier in die Wes-Kaap nie? Alles verdor, die kouefronte trek suid van ons weg en gaan stortreën in die Oos-Kaap en KZN. Ons is op ons knieë vir reën!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.