Vrou sterf ná noodlottige U-draai

Die motor waarin die vrou gesterf het. Foto: Verskaf

Die motor waarin die vrou gesterf het. Foto: Verskaf

ʼn 25-jarige vrou is Maandagoggend buite Pretoria dood nadat die motor waarin sy ʼn passasier was teen ʼn ander motor gebots het.

Konst. Conny Moganedi, polisiewoordvoerder, het gesê die botsing het omstreeks 05:45 op die R513-pad naby Cullinan, oos van die stad, plaasgevind.

Die ander motor wat in die botsing betrokke was. Foto: Verksaf

Die ander motor wat in die botsing betrokke was. Foto: Verksaf

“Volgens ooggetuies het ʼn vlootblou Mercedes Benz probeer om ʼn U-draai op die pad te maak toe ʼn wit Volkswagen Passat die agterkant van die Mercedes getref het waar die vrou gesit het. Die vrou is op die toneel dood verklaar,” het Moganedi gesê.

Die polisie ondersoek ʼn saak van strafbare manslag.

Die naam van die oorledene kan nog nie bekend gemaak word nie.

Dit was nie dadelik bekend wat die ander mense se beserings was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Theresa ·

Dis jammer om van so ‘n ongeluk te hoor! Soveel verlies en soveel skade. Dit raak meer en meer gewild om ‘n u-draai enige plek te maak. Hier in die voorstede is dit daagliks ‘n nagmerrie wanneer ‘n taxi net skielik besluit hy wil nou anderkant toe en ‘n u-draai is die oplossing.

Paul ·

Draai om by ‘n inrypad of as dit in ‘n stedelike gebied is, ry om die blok. So eenvoudig soos dit.
Al plek waar ek nie te veel sal stry as iemand ‘n U-draai wil maak nie, is by ‘n verkeerslig op ‘n verdeelde pad, aangesien daar dan mooi sigbaarheid en genoeg tyd is om dit te doen.

Asjas ·

Die saak van strafbare manslag behoort teen die bestuurder van die motor waarin sy dood is gemaak te word. Hy het roekeloos bestuur en U-draai op gevaarlike plek gemaak? Die ander motor bestuurder behoort hom ook aan te kla vir poging tot moord deur roekelose en nalatige bestuur! Ja Ja ek weet! net in Utopia …

Elizabeth ·

Dis verskriklik hartseer!! Ek dink en bid vir haar familie en vriende. Verskriklik jammer met julle groot verlies!! Waar is die bestuurder van die motor en het die persoon seer gekry? Baie sterkte.

Lynette Tolmay ·

My seun was die ander motorbestuurder in hierdie ongeluk – nog in die hospitaal met gebreekte enkel en gebreekte ribbes, beseerde knie en veelvuldige kneusings. Sal 6 weke nie kan werk nie en spinternuwe voertuig afgeskryf. Hierdie kruising is die oorsaak van veelvuldige ongelukke en behoort n robot en baie duidelike waarskuwings vir verkeer te he. Inwoners van die woonbuurt is geneig om oor die stopstraat te skiet en dan in die verbystroom baan te wag vir aankomende verkeer om verby te gaan, wat hier hier gebeur het, maar die bestuurder van die blou Mercedes het toe sommer besluit om ook n U draai te maak sonder om te let na die aankomende verkeer in die normale baan. Die bestuurder van die blou Mercedes is nie beseer maar sy dogter is op die toneel oorlede. Ons innige simpatie is met hierdie gesin en met die vader wat hier betrokke is aangesien hy homself seker nooit sal kan vergewe vir die bestuursfout wat hy gemaak het nie, en regtig, dit kan met ons almal gebeur om so n fout te maak. Om op die pad te wees in n voertuig is maar altyd n risiko – net soos om op n plaas te bly!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.