Vrou sterf ná ure in wrak

Odette en Christo Norton is in Maart 2015 getroud. Sy het hom gebel toe sy Dinsdagaand 23:00 weg is by Emoya in Groenvlei, Bloemfontein. Foto: Facebook

ʼn Haarkapper van Bloemfontein het haar ma nog Maandag opgewonde laat weet: “Mamma, al die reëlings is getref en alles is betaal.” Dié reëlings was vir ʼn bootreis vir hul familie vroeg aanstaande jaar.

Die volgende aand het Odette Norton (29) ʼn aandjie uit saam met ʼn kollega op die Emoya-landgoed geniet, waarna sy haar man, Christo (39), laataand gebel het om te sê sy is op pad huis toe. Hy het ingesluimer en eers Woensdagoggend teen 02:00 wakker geskrik en besef sy vrou was nog nie tuis nie.

Odette se ma, Sonja van Wyk, vertel Christo het na Odette begin soek tussen hul huis in Bainsvlei en die Emoya-landgoed in Groenvlei, enkele kilometers daarvandaan. Die twee is drie en ʼn half jaar gelede getroud.

Die Hyundai i20 waaroor sy so bly was toe sy dit sowat twee maande gelede gekoop het, het sowat 40 m deur die lug getrek en meermale gerol nadat dit Frans Kleynhansweg op ʼn skerp draai verlaat het, sê Van Wyk. Dit het so ver van die pad tot stilstand gekom dat Christo ʼn paar keer daar verbygery het sonder om die wrak in die donker te sien.

Nadat sy haar naam gesê het, kon hy haar nie meer hoor nie.

Eers vroegoggend het iemand op Odette afgekom. “Sy het nog geleef,” vertel haar ma. “Die persoon het met haar gepraat en sy kon fluister sy woon in Bainsvlei, maar nadat sy haar naam gesê het, kon hy haar nie meer hoor nie. Daarna het sy nie weer gepraat nie.”

Van Wyk, wat saam met haar man, Monté, op Excelsior, sowat 100 km oos van Bloemfontein woon, vertel almal het intussen na Odette begin soek. “Dit het my ander dogter, Adéle (37), seker ʼn uur en ʼn half gevat om al die polisiestasies in Bloemfontein te bel.”

Odette se ouers, Sonja en Monté van Wyk, woon op Excelsior, waar Odette gematrikuleer het. Foto: Facebook

Nadat iemand ʼn ongeluk in Frans Kleynhansweg aangemeld het, het Adéle daarheen gejaag en op haar suster afgekom waar sy nog in haar kar was met haar veiligheidsgordel aan. “Haar sussie het op Odette geskree: ‘Asseblief, jy moet net bly lewe!’” vertel Van Wyk. “Sy het ook hartmassering op haar toegepas, maar dit was toe al te laat.”

Selfs die ambulanspersoneel wat na die toneel ontbied is, het ʼn paar keer verbygery omdat dit so moeilik was om te sien waar die motorwrak te lande gekom het, vertel Van Wyk.

Daar is ʼn skerp draai in die teerpad waar al ʼn hele paar ongelukke plaasgevind het.

“Daar is ʼn skerp draai in die teerpad waar, volgens wat ek verstaan, al ʼn hele paar ongelukke plaasgevind het. Daar is al buitebande gepak om die ongelukke te probeer keer, maar dis moeilik om die draai snags te sien.”

Odette het op Excelsior gematrikuleer en daarna grafiese ontwerp in Bloemfontein studeer. “Dis eintlik ʼn baie mooi storie,” sê Van Wyk, “want sy het Christo, wat haar dosent en tien jaar ouer as sy was, daar ontmoet. Dis mos nie protokol om met studente ʼn verhouding aan te knoop nie, maar nadat sy klaar geswot het, het hulle verloof geraak en in Maart 2015 getrou.”

Odette het later besluit om eerder ʼn haarkapper te word, terwyl Christo intussen van die huis af as grafiese ontwerper begin werk het. Nadat sy 18 maande studeer het, het sy ʼn haarsalon in die woonbuurt Waverley geopen.

“Sy was die wonderlikste mens,” onthou Van Wyk haar jongste dogter, wat ook ʼn ouer broer, Pieter (43), het. “Sy was altyd verskriklik goed versorg en baie, baie lief vir mense.”

Sy was ʼn regte ou skouertjie om op te huil en het vir almal tyd gemaak.

Van Wyk vertel hoewel Odette ʼn haarkapper was, wonder sy of haar kliënte nie ewe veel vir raad met persoonlike uitdagings na haar salon gekom het nie. “Sy was ʼn regte ou skouertjie om op te huil en het vir almal tyd gemaak en na almal se probleme geluister. Sy het altyd ʼn glimlag en ʼn vriendelike woord vir almal gehad.

“Sy was baie special, en het daarvan gehou om alles mooi te maak, soos om gedurig haar salon te verander sodat dit nuut en mooi kon lyk.”

Van Wyk vertel hulle wag nog tot die lykskouing afgehandel word voor hulle begrafnisreëlings kan tref, maar die begrafnis sal in Bloemfontein wees sodat al haar baie kliënte en vriende dit ook kan bywoon.

Intussen beplan hulle om wel die bootreis te onderneem waaroor Odette kort voor haar dood so opgewonde was, maar sal nader aan die tyd finaal besluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Alida ·

Sterkte aan die familie. ?? My oudste meisiekind, ook op 29 in ‘n ongeluk verloor, in soortgelyke omstandighede. Niks kan mens daarvoor voorberei nie??

Deloris ·

Mooie engel Rus in Vrede… my hart is so stukkend al het ek jou nie geken nie, ek bid vir julle verlies.

Robbie Crouch ·

So hartseer, ek ken daai draai en kan verstaan hoe haar man nie die wrak kon sien nie.
Haar geliefdes is beslis in my gebede in die stukkende tyd.

Iemand ·

Ja dit is baie hartseer. Ek weet die wat ek nou gaan sé is dalk nie hier tersprake nie. Maar dit is van belang, veral die tyd van die jaar wat ons jaareind funksies het saam kollegas. Mens moet eintlik gladnie bestuur na mens alkohol gebruik het nie, selfs net 1 glasie beinvloed mens se reaksie spoed. Reel met iemand om jou en jou kollegas te gaan haal na jul jaareind funksie. Sterkte aan almal wat n geliefde op die pad verloor het.

Snip van Joburg ·

So jy neem sommer aan sy het alcohol gebruik? Ai tog. Aan al haar vriende en familie, mag julle berusting vind en glo sy is by haar Abba Vader.

Ronnie ·

Iemand, jy is reg. Alkohol is nie hier tersprake nie. Jou aanmerking daaroor is onvanpas.

Ai Snippie ·

Lees tog wat “iemand” se voor jy jou speelgoed gooi asb?
Ek dink jy het n baie geldige punt daar en mense kan dit gerus ter harte neem.
Dit is die tyd van die jaar en met die nuwe wetgewing hoop ek mense sal twee maal dink.

Sterkte aan die familie en vriende.

Iemand ·

Snip: nee ek neem dit nie aan nie. Ek sé dan duidelik dat dit dalk nie eers tersprake is hier nie. Dalk het sy uitgeswenk vir n dier, dalk was dit te donker en die pad was sleg gemerk, dalk het n dronkbestuurder in n ander voertuig die ongeluk veroorsaak. Ek neem glad nie aan dat sy aljohol gebruik het nie. Maar ek noem net dat veral hierdie tyd van die jaar moet ons almal ekstra moeite doen om seker te maak dat die pad veilig is…

Helene Heyns ·

So n pragtige storie met so hartseer einde. Mag jul vertroosting vind en sterkte vir die eina pad vorentoe.

linda limbo ·

dis baie hartseer,
maar ek wil net graag sê dit lyk of Jesus ‘n engel kom haal het en daar groot partytjie
ini hemel is.

marina ·

Ek ry daai pad elke dag 2 keer ,en dit is n moeilik pad selfs in die dag! Innige meegevoel vir die familie , Baie hartseer.!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.