Vrou sterf op Tafelberg

Foto: Norbert Stallkamp/WSAR

ʼn Vrou is Saterdagoggend op Tafelberg dood verklaar.

Wildernis-soek-en-redding (WSAR) is omstreeks 10:20 ingelig oor ʼn vrou wat bewusteloos is en reddingspanne het hulle na die toneel sowat 200 m van die bokant van Skedelkloof (Skeleton Gorge) op Tafelberg gehaas.

Volgens Johann Marais, WSAR-woordvoerder, het ʼn voertuig met twee paramedici via Constantianek teen die berg opgery om aan die bokant van Skedelkloof uit te kom.

Nog voertuie en reddingspanne is teen die berg op en teen die tyd dat hulle die vrou bereik het, was omstanders al vir byna ʼn uur besig om mond-tot-mond-asemhaling toe te pas.

“Die departement van gesondheid se AMS-helikopter is ontbied terwyl ʼn grondspan na die hoofingang van die Kirstenbosch Nasionale Botaniese Tuin ontplooi is om bystand aan die helikopterpersoneel te verleen.”

Paramedici kon nie daarin slaag om die vrou by te bring nie en haar liggaam is per helikopter van die berg af gebring. Die ander stappers is met die voertuie tot veiligheid gebring.

Volgens Marais het die vrou nie beserings opgedoen wat daarop dui dat sy geval het nie. Die presiese oorsaak van haar dood sal met ʼn nadoodse ondersoek vasgestel word.

“Ons betreur die dood van ʼn stapper en betuig ons medelye met haar familie en vriende,” het Marais gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.