ʼn Vrou is dood en ʼn man en twee kinders beseer nadat ʼn voertuig Maandagoggend op die R509 buite Rustenburg in Noordwes gerol het.
Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê die ongeluk het voor 08:00 in die Derby-gebied gebeur. Met paramedici se aankoms op die toneel het die voertuig op sy kant gedeeltelik van die pad af gelê.
“Drie mense het buite die voertuig gelê, terwyl ʼn vrou in die voertuig vasgekeer was,” het Meiring gesê.
“By nadere ondersoek het paramedici gevind dat die vrou veelvuldige beserings opgedoen en geen tekens van lewe getoon het nie. Daar was niks wat vir haar gedoen kon word nie en sy is op die toneel dood verklaar.” Die vrou was vermoedelik 45 jaar oud.
ʼn 17-jarige seun wat buite die voertuig gelê het, het verskeie beserings opgedoen en was in ʼn kritieke toestand, het Meiring gesê. Die seun is op die toneel behandel voordat hy met ʼn noodhelikopter na ʼn nabygeleë hospitaal geneem is.
ʼn Man en 14-jarige meisie het matige beserings opgedoen. Hulle is per ambulans na ʼn hospitaal geneem.
Volgens Meiring is die oorsaak van die ongeluk nog nie bekend nie, maar dit word deur die polisie ondersoek.
Sterkte aan die familie.