Kim McCusker, die Johannesburgse vrou wat amper tien jaar gelede deur ʼn taxi omgery en vir meer as 700 m ver gesleep is, is die week dood.
Julia Frantzeskou het bevestig haar suster is Donderdag dood. “Ons is hartseer en vind dit moeilik om te glo, want dit is moeilik om jou ʼn wêreld voor te stel sonder ons kosbare Kimmy. Sy was ʼn liefdevolle dogter vir Doug en Pat, ʼn toegewyde lewensmaat vir Anthony en ʼn ongelooflike suster vir Gareth, Ian en vir my.”
Dit is nie onmiddellik bekend gemaak wat tot McCusker se dood gelei het nie.
“Ek weet dat sy soveel harte aangeraak het en dat almal, insluitend haar familie, vriende, personeel en kliënte, die betekenis van hierdie verlies sal voel.”
Frantzeskou het versoek dat die familie ruimte gegee word om in hierdie moeilike tyd te treur. Begrafnisrelings sal later bekend gemaak word.
Die gebeure van 13 September 2011 en McCusker, toe 25 jaar oud, se pad na herstel het jare lank hoofopskrifte gehaal. McCusker en haar eksman Lourens Grobler, destyds haar verloofde, was die oggend in Lonehill, Johannesburg, op pad na ʼn gimnasium.
Matome Thamage se taxi het teen McCusker en Grobler se bakkie gebots. Hulle het uitgeklim om die taxibestuurder se besonderhede te kry toe hy wegjaag en McCusker etlike honderde meter ver meegesleep het.
McCusker het ernstige beserings opgedoen en moes jare lank talle operasies en veloorplantings ondergaan. Thamage, wat later in hegtenis geneem is, het beweer dat hy van die toneel probeer vlug het nadat Grobler hom glo aangerand het. Thamage het einde 2015 verdwyn en is volgens berigte nog nie weer opgespoor nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
13 Kommentare
Het in 2015 verdwyn en is nooit weer opgespoor nie. Lekker hier in Afrika.
Soek soek en jy kry Niks nuwe lese van die poliesie
In 2015 verdwyn en nooit weer opgespoor nie. Wonder hoe sou sake verloop het as dit wit was wat swart 700 meter ver gesleep het.
Dis ongelooflik hartseer! Baie sterkte aan haar naasbestaandes
Thamage, jy kan nie vir altyd vlug nie, jou dag kom.