Vrou sterf toe weerlig huis tref

Argieffoto: CorinnaST, Pixabay

Argieffoto: CorinnaST, Pixabay

ʼn Vrou is Sondagaand in KwaZulu-Natal dood toe weerlig haar huis getref het. Dit bring die getal mense wat oor die naweek dood is toe weerlig hulle getref het, op vier te staan.

Robert McKenzie, woordvoerder van die KwaZulu-Natalse nooddienste, het gesê die vrou is omstreeks 19:30 dood toe weerlig haar huis in die Ndwedwe-omgewing getref het.

“Die 28-jarige vrou was reeds dood toe paramedici by die toneel opgedaag het. Nog ʼn persoon wat in die huis was, het ernstige beserings opgedoen en moes behandeling ontvang,” het McKenzie gesê.

Saterdag is drie mense dood en 40 beseer toe hulle deur weerlig getref is in die Machi-gebied naby Harding.

Nomusa Dube-Ncube, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê die mense is deel van die Shembe Nazareth Baptiste-kerk wat daarvoor bekend is dat hulle graag kerkdienste onder bome hou. “Net toe die gemeenteleier besig was om die diens af te sluit, het die weerlig die gebied getref en talle mense het in verskillende rigtings gehardloop vir skuiling,” het sy gesê.

Altesaam 40 mense is beseer en deur die provinsiale nooddienste na hospitale geneem. Volgens Dube-Ncube is almal in ʼn stabiele toestand en kla hulle net van “pyn in hul hande en voete”. Al die slagoffers was vroue tussen 50 en 65 jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.