Vrou sterk aan ná Muldersdrift-aanval, drie in hof

Jenny Henderson se arms is ernstig beseer tydens die aanval. Foto: Verskaf

Jenny Henderson se arms is ernstig beseer tydens die aanval. Foto: Verskaf

Jenny Henderson, die 60-jarige vrou wie se man verlede week tydens ʼn aanval op hul kleinhoewe in Muldersdrift langs haar gesterf het, sterk in die Fourways-hospitaal aan.

Sy is tydens die aanval by hul huis in Lindley verskeie kere in die gesig en teen haar kop geskop. Haar arms is ook beseer soos wat sy die houe probeer afweer het.

“Sy het Dinsdag ʼn operasie ondergaan om die skade aan haar neus te behandel. Haar neus het op drie plekke gebreek. Sy het ook ander skade aan haar gesig opgedoen. Sy is stabiel, maar daar lê nog ʼn lang pad van herstel vir haar voor,” het Terry-Ann Booyse, woordvoerder van die veiligheidsmaatskappy Drift Reaction, gesê.

Drift Reaction het Vrydag in die vroeë oggendure gereageer nadat Jenny en haar man Charles (61) die Donderdagaand deur rowers oorval is. Hulle het ook die Vrydag en Saterdag ʼn groot rol gespeel in die inhegtenisname van drie verdagtes wat glo by die aanval betrokke was.

Maroela Media het Vrydag berig hoe Jenny met haar man se kop op haar skoot gesit en wag het vir hulp nadat ʼn groep mans hulle aangerand en beroof het. Lees meer hier.

Puik speurwerk van ʼn beampte van Drift Reaction se Iron Fist Squad het daartoe gelei dat een verdagte Vrydag omstreeks 11:00 in Jeppe, Johannesburg, aangekeer is terwyl hy besig was om te probeer om van die gesteelde items te verkoop. Sy inhegtenisname het tot ʼn ander medepligtige se inhegtenisname in ʼn informele nedersetting in Muldersdrift gelei. Die man wat die wegkomvoertuig bestuur het, het homself Saterdagoggend aan die polisie oorgegee nadat hy verneem het dat die polisie op sy spoor is.

Die drie verdagtes het Maandag in die Krugersdorp-landdroshof verskyn. Pardon “Gaddafi” Ngwenya (30), Caiphus “Soldier” Mdawini (40) word aangekla van moord, poging tot moord en gewapende roof. Die bestuurder van die voertuig, Sebatso Steven Sehlaha (34), word aangekla van die besit van gesteelde eiendom. Die saak is tot volgende week uitgestel vir verdere ondersoek. Hulle bly in aanhouding.

Volgens ʼn speurder wat by die ondersoek betrokke is, vermoed hulle dat die verdagtes met ander gruweldade in die gebied verbind kan word. Die polisie is steeds op soek na ander verdagtes wat moontlik by die aanval op die egpaar betrokke was.

Lees alle vorige berigte oor Muldersdrift op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anet ·

Wel gedaan vir jou puik speurwerk en vinnige optrede aan die beampte van Drift Reaction se Iron Fist Squad. Ons het meer mense soos jy nodig in hierdie samelewing. Ek hoop daar is ‘n welverdiende bonus vir jou !

Dave ·

Maroela, julle kan gerus verduidelik waarom julle moordenaars beskryf as rowers.

Dave ·

Maroela, julle kan gerus verduidelik waarom julle moordenaars beskryf as bloot rowers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.