Vrou sterk aan ná spoegkobra haar op toilet pik

Die slang wat Hamilton gepik het. Foto: Verskaf.

Die slang wat Hamilton gepik het. Foto: Verskaf.

ʼn Vrou van Limpopo was onlangs by haar werk toe die natuur geroep en sy onwetend dieselfde toilet gekies het waarin ʼn Mosambiekse spoegkobra lafenis van die bloedige Thabazimbi-hitte gaan soek het.

Jo-Anne Wheeler Hamilton, ʼn 35-jarige administratiewe klerk by SPH Kundalila, was op 21 Januarie op die terrein van Kumba Iron Ore Thabazimbi toe sy haarself moes gaan verlig.

“Ons is gewoond aan slange, en verskeie slangsoorte is volop hier,” het Hamilton Dinsdag aan Maroela Media gesê. “Ons maak dus ʼn punt daarvan om op die uitkyk te wees vir hulle, veral as ons die toilette binnegaan. Ek het oudergewoonte die badkamer deursoek en ook in die toiletbak gekyk, maar niks gesien nie. Ek het gaan sit en gevoel iets brand. Ek het eers gedink die toiletsitplek het my geknyp. Toe ek opstaan het ek iets in die water hoor val. Ek het in die bak gekyk, maar niks gesien nie. Ek sien toe twee gaatjies en bloed op my bobeen.”

Jo-Anne Wheeler Hamilton

Jo-Anne Wheeler Hamilton

Sy het besef iets is fout en het met ʼn toiletborsel by die pypopening gekap, maar van die kuiergas was daar geen teken nie. “Toe ek die toilet spoel, het die 1.2 meter lange slang na my toe opgespring.” Sy het groot geskrik, om hulp geroep en vir kollegas laat weet ʼn slang het haar gepik. Haar kollegas het ʼn foto van die slang geneem terwyl sy die nooddienste ontbied het.

Dit was presies 13:38 toe sy gebel het, en teen 13:50 was sy in die Thabazimbi MediClinic opgeneem. Teen dié tyd was haar tong droog en haar been het erg gebrand. Sy is teengif toegedien, maar het ʼn allergiese reaksie getoon, en ná ʼn aand se waarneming in die hospitaal se intensiewesorgeenheid, is sy die volgende dag na die Muelmed-hospitaal in Pretoria oorgeplaas.

By Muelmed moes Hamilton ʼn operasie ondergaan om dooie weefsel, so groot soos ʼn tennisbal, uit haar lies te sny.

Sy is uiteindelik verlede Donderdag ontslaan en sterk tans by haar huis aan, maar ʼn lang herstelpad lê nog voor. “Ek moet twee keer ʼn week Rustenburg toe reis om ʼn wondsorgsuster te gaan sien,” het Hamilton verduidelik. “My wond is tans 4,5 cm diep en 13,5 cm lank. Die suster is tevrede en sê die wond herstel mooi. Die wond self is darem nie seer nie, maar dit is net baie ongemaklik. Ek mag ook nie te veel rondbeweeg nie en is aangesê om rustig te wees.”

Sy het gesê haar tong is baie sensitief en sy kan steeds die teengif proe. “Niemand kan vir my sê hoe lank die newe-effek gaan voortduur nie. Weens die smaak kan ek net vrugte en koue kosse eet, anders word ek naar.”

Hamilton het gesê dis nie vir haar lekker om na die foto van die slang te kyk nie, tog dink sy nie sy is nou bang vir slange nie. “Ek weet egter nie hoe ek gaan voel as ek weer terug is by die werk en weer die toilet moet gebruik nie,” het sy gesê.

Wat die slang betref, weet niemand waar dit is nie, aangesien dit net so ongesiens verdwyn soos wat dit verskyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Leeutjie ·

Sjoe dis nie ‘n lekker plek om gepik te word nie. Daai reptiel skuil nog iewers. Eish!

christell nel ·

Wonder of mens dit kan sien as ‘n besering aan diens LOL – Net ‘n grappie. Spoedige herstel vir jou.

Dave ·

Jy meen die besering aan lies moet besering aan diens word, Christell.. :-)

Kosie ·

Arme slang sou gelawe moes gewees het as ek op daai troon gesit het. Die kleur sou verander het van lig bruin tot baie bruin.

Leeutjie ·

Kosie, ek het nogal dieselfde gedink… nou lekker gelag!

Neptunus ·

Die vrou het ‘n baie goeie oog as sy tyd gehad het om die slang se lengte te skat op 1.2 m! Vreemd dat sy by die opening gekap het nadat sy reeds twee gaatjies en bloed op haar been bespeur het – dalk wou sy kyk of die slang in Morsekode kan kommunikeer. Sterkte in elk geval.

SNEL ·

Sjoe, dis nou n gatslag. Dink ons almal gaan nou eers loer en tik, voor ons sit en druk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.