Vrou swaar gestraf vir moord op geliefde veearts

Dr. Freddie Malan. (Foto: Facebook)

Ná byna drie jaar boet minstens een van dr. Freddie Malan se moordenaars vir dié geliefde Pretoriase veearts se moord.

Linda Samantha Carolina Venter is Maandag in die Johannesburgse hooggeregshof 40 jaar tronkstraf opgelê vir haar aandeel in die moord op Malan.

Malan is in Januarie 2019 in sy praktyk in die Moot doodgeskiet toe Venter en twee mans die betrokke aand op die Jakaranda-dierehospitaal toegeslaan het.

Dié trio is intussen met talle misdaadsake verbind. Venter is tot op hede egter die enigste om aangekeer en vervolg te word.

Malan se gesin hoop nou dat die res van sy moordenaars eendag verantwoording sal doen.

Nadia Malan, Freddie se vrou, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy en haar twee tienerseuns is tevrede met die vonnis hoewel niks ooit haar man sal terugbring nie.

“Dit is net verskriklik dat iemand so iets kon doen. ’n Pa en eggenoot is weggeruk.”

Venter het op die dag van Malan se moord in die Jakaranda-dierehospitaal ingegaan om kwansuis meer inligting te kry oor die behandeling van ’n troeteldier, waarna sy die dierehospitaal se hek vir haar twee makkers oopgehou het.

Die twee mans het die personeel van die dierehospitaal gekonfronteer. ’n Woordewisseling het ontstaan en Malan is doodgeskiet.

Venter is eindelik in Augustus 2019 in hegtenis geneem nadat sy en haar makkers in verband met talle misdade in Gauteng gesoek is. Dit sluit in etlike rooftogte by mediese praktyke en sy is eindelik aan 25 aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.

Nadia hoop nou dat Venter se meelopers binnekort geïdentifiseer en aangekeer word om te verhoed dat nog slagoffers deurloop.

“Hulle het my man koelbloedig doodgeskiet… vir niks nie. Hulle moet verstaan dat geregtigheid in Suid-Afrika kan geskied.

“Dit is iets wat ek vir niemand gun nie.”

Nadia vertel dat die gesin steeds sukkel om die verlies te verwerk. Een van haar seuns is intussen uit die skool gehaal en word nou tuis onderrig.

“Dit is baie moeilik en voel vir ons nog so onwerklik, maar ’n mens moet aangaan.”

Nadia bedryf deesdae ’n hondesalon op die perseel van die Jakaranda-dierehospitaal. Sy vertel dat daar ’n veearts is wat daarin belangstel om moontlik ’n praktyk op die perseel te vestig.

“Ons het deur ons liefde vir diere ontmoet. Ek wil nie hê daardie plek moet doodloop nie.

“Ek het die beste man gehad wat daar was. Hy was betroubaar en getrou en só lief vir diere.”

Nadia hoop nou dat Freddie se kliënte die hondesalon en moontlike nuwe veearts sal ondersteun as eerbetoon aan haar geliefde man.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

KhoiKhoi ·

‘n Bewys dat daar misdadigers onder alle rasse is.
Hulle is dieselfde en is almal harteloos.

Retha ·

Maak mens so woedend. Meeste van die tyd kom moordenaars skotvry, want die kans dat die ander twee gevind sal word is baie skraal as dit hul 3 jaar geneem het om een saak af te handel

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.