Vrou terug by werk ná militêre man haar glo skiet

Carine van Staden en Johan Harmse. Foto: Via Facebook

Carine van Staden (28), die vrou wat in Augustus in die noorde van Pretoria ten aanskoue van haar verloofde in spitsverkeer geskiet is, is terug by haar werk.

Carine is sedert die skietvoorval op 10 Augustus weke lank in die George Mukhari-hospitaal behandel, waarna sy ontslaan is om by haar huis in Daspoort aan te sterk.

Bloeding in haar linkerlong het veroorsaak dat sy baie pyn ervaar en gou moeg geraak het.

“Sy het nou nog baie seer en is styf, maar is sterk genoeg om weer te werk. Sy was verlede week by die dokter en die bloeding lyk baie minder. Sy is weer op haar pos as ontvangsdame vir ʼn onderneming wat plaastoerusting in- en uitvoer,” het Carine se pa, Johan van Staden, Donderdag aan Maroela Media gesê.

Dié goeie nuus volg nadat Carine se beweerde skieter, Jacob Marakalla, Woensdag vlugtig in die Pretoria-Noord-streekhof op aanklag van poging tot moord verskyn het.

Van Staden het die verrigtinge bygewoon en gesê die saak is op versoek van Marakalla se prokureur tot 22 November uitgestel. “Volgens die staatsaanklaer gaan die saak dan tot iewers volgende jaar uitgestel word aangesien die hofrol te vol is,” het Van Staden gesê.

Marakalla is steeds vry op waarskuwing om dan in die hof te verskyn.

Maroela Media het vroeër berig Marakalla het op 5 Oktober vir die eerste keer in die gebied se landdros verskyn. Die saak is direk na die streekhof oorgeplaas aangesien dié hof hoër gesag het.

Carine en haar verloofde, Johan Harmse (29), was op 10 Augustus omstreeks 18:00 van Daspoort op Harmse se motorfiets op pad na vriende in Montana toe ʼn amptelike weermagvoertuig Harmse se motorfiets skrams getref en weggery het.

Die paartjie het die voertuig agternagesit en by ʼn verkeerslig voorgekeer, waarna ʼn insittende in die voertuig Carine glo op ʼn kort afstand in haar linkerbors geskiet het. Die man het daarna glo ook sy vuurwapen op Harmse, wat nog op sy motorfiets was, gerig voordat die verkeerslig groen geword en hy weggery het.

Die weermaglid, vermoedelik ʼn motorbestuurder vir ʼn generaal, het glo aan die Sinoville-polisie gesê hy het gemeen hy word gekaap.

Aanvanklik is ʼn klag van die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare gebied asook roekelose en nalatige bestuur teen die weermaglid aanhangig gemaak voordat hy op waarskuwing vrygelaat is.

Die saak is daarna na poging tot moord verander en Marakalla het in September kennis van die Nasionale Vervolgingsgesag ontvang om in die hof te verskyn. Hy is nooit in hegtenis geneem nie.

Van Staden moes intussen talle operasies ondergaan.

Lees alle vorige berigte oor Carine van Staden op Maroela Media.

Marakalla (voor in die pak) buite die hof. Foto: Phillip Bruwer

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sus ·

Lesse geleer. Moenie roadrage kry en op ander bestuurders afstorm nie. Dis gevaarlik.

Baie sterkte ·

Ek is ontsettend bly dit gaan beter met jou maar ROER Hierdie saak, hy moet krimineel aangekla word en van POGING tot moord, niks anders nie hy moet ook 16 jaar gaan sit soos die doodskis twee .. en verder moet jy hom SIVIEL Aanspreeklik hou vir jou mediese onkostes . ROER HOM . moenie gaan le nie, die fight is nog lank nie verby nie.

Cherokee ·

Daarbenewens moet die voorreg hom ontneem word om ‘n vuurwapen te hanteer.

Heleen ·

En hoekom word hy nie ook agter tralies gehou met vonnis van 19jaar nie??? Dis mos poging tot moord !!!! Rassisme rassisme! Hoekom help Gerrie Nel nie??

koos ·

Ek aanvaar Gerrie N moet wag tot die normale regsproses niks opgelewer het nie en gaan dan hier met mag en mening inklim.

Ben ·

Ons regstelsel is n joke is Al wat ek se endie regrets rasissties

Heinrich Hartman ·

Is daar n regskundige verklaring waarom jy n persoon in die openbaar trompop kan skiet en nie in hegtenis geneem word nie. Die rig en skiet van n persoon het mos kriteria vir n bepaalde lewensbedreigde situasie. Hoe kom dit my voor ons kennis om die oortredings te hanteer volgens riglyne is nie relevant vir sekere individue nie. Ek is verward help asb.

Adam Boshoff ·

Het Maroela nie n ondersoekende joernalis wat bietjie navraag kan doen waarom hierdie saak anders as ander sake hanteer word nie Sover ek weet moes hy gearresteer gewees het en aangekla word waarna hy voor n landdros moet veskyn en die beskuldige aansoek vir borgtog moet doen Hoekom word die bekuldige beskerm Slegs poging tot moord Wat van rig en afvuur van n vuurwapen in openbare area Was hy in besit van n magtiging om n weermag vuurwapen in sy besit te he Het hy n bevoegdsheid klaring om dit te mag he

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.