Vrou tronk toe na moord op kêrel

court-hammer_thumbʼn 20-jarige vrou van Noordwes is in die Bloemhof-streekshof tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op haar kêrel.

Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het gesê vyf jaar van die vonnis is opgeskort op voorwaarde dat sy nie weer skuldig bevind word aan moord, poging tot moord of aanranding met die doel om ernstig te beseer nie.

Moleko het gesê Dolly Moreetsi het haar kêrel, Kibit Duiker, op 19 September 2013 vermoor. “Die polisie in Bloemhof het inligting ontvang oor ʼn paartjie wat die aand baklei het. Met hul aankoms is Duiker se liggaam in ʼn plas bloed gevind.”

ʼn Ooggetuie het aan die polisie gesê dat hy by Duiker se huis was toe die bakleiery uitgebreek het. Moreetsi het Duiker met ʼn mes in die bors gesteek, volgens die ooggetuie. Duiker het hulp gaan soek by sy buurman se huis, waar hy uiteindelik aan sy wonde beswyk het.

Volgens Moleko het die polisie Moreetsi in Duiker se huis aangetref. Sy het erken dat sy hom vermoor het, maar het geswyg oor die rede. Die polisie het ook die moordwapen op die toneel gevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.