Vrou tronk toe wat Mabuza van moord beskuldig

Adjunkpresident David Mabuza (Foto: Motshwari Mofokeng, ANA)

Die vrou wat ʼn herrie veroorsaak het deur te beweer dat adj.pres. David Mabuza by ʼn sameswering betrokke was om ʼn Mpumalanga-sakeman te laat vermoor, is Dinsdag in die Nelspruit-streekhof gevonnis.

Nomfundo Petronella Sambo (32) is tot effektief sewe jaar direkte tronkstraf gevonnis nadat sy op 5 Augustus op al die aanklagte teen haar skuldig gepleit het. Sambo, wat haar as ʼn familielid van Mabuza voorgedoen het, is in Maart verlede jaar op aanklagte van bedrog, vervalsing en dwarsboming van die gereg deur die Valke in hegtenis geneem.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, sê sy het onder meer skuldig gepleit dat sy haar ware identiteit verbloem het en die skuilnaam “Thandeka Mabuza” gebruik het om haar as ʼn niggie van die adjunkpresident voor te doen. Sy is op die aanklag tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, sonder die opsie van ʼn boete.

Die hof het haar ook skuldig bevind aan meineed nadat sy ʼn valse saak van ontvoering aanhangig gemaak het. Sy is ook skuldig bevind aan diefstal en roof nadat sy beweer het dat sy ʼn skootrekenaar en R4 000 kontant verloor het. Sy is hiervoor tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis, sonder die opsie van ʼn boete.

Sambo is tot ʼn verdere ses jaar gevangenisstraf gevonnis vir die aankoop van meubels op ʼn bedrieglike wyse ter waarde van R28 000.

Sambo het in ʼn beëdigde verklaring beweer dat Mabuza glo op 5 November 2018 saamgesweer het om ʼn sakeman wat betrokke is by ekotoerisme te laat vermoor. Die verdagte het beweer dat die sameswering in Sandton gebeur het wat gelei het tot die opening van ʼn dossier by die Sandton-polisiestasie.

Dit het intussen bekend geword dat die adjunkpresident nié in die land was ten tyde van die beweerde oortreding nie. Volgens Mulaudzi het dit ook vinnig duidelik geword dat die verklaring moontlik nie waar is nie en dat die verdagte moontlik gejok het oor die voorval asook haar beweerde verbintenis met die adjunkpresident.

Sambo is aanvanklik op borgtog van R3 000 vrygelaat, maar dit is teruggetrek toe sy nie die daaropvolgende hofverskynings bygewoon het nie.

“Die Valke verwelkom die vonnis,” sê Mulaudzi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet ·

6 jaar vir R28 000 se meubels. Die skelms wat African Bank beroof het, EFF lede met VBS, Markus Jooste en Christo Wiese vir Steinhoff en hordes ander private sektor bedrog, ANC lede en BOSASA… Nie ‘n enkele eens gearresteer nie. As jy ryk en polities gekoppel is tel dieselfde reëls nie vir jou as vir die res van ons nie.

Kerneels ·

Vergelyk hierdie vonnis met Richard Mdluli se vonnis – hy het skokkend lig daarvan af gekom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.