Vrou, twee honde kom om in huisbrand

Brandweermanne van die Ekurhuleni-rampbestuurdienste op die toneel (Foto: Netcare 911)

ʼn Vrou en twee van haar vierpotige vriende is Dinsdagoggend dood toe ʼn brand in haar huis in Brackenhurst, Alberton, uitgebreek het. Sy en haar vyf honde het alleen in die tienslaapkamerhuis gewoon.

William Ntladi, woordvoerder van die Ekurhuleni-rampbestuurdienste, sê dié nooddienste is omstreeks 07:25 na Dandelionstraat in Brackenhurst ontbied.

“By die rampbestuurspan se aankoms op die toneel was ʼn gedeelte van die huis in ligte laaie. Daar was reeds mense, vermoedelik van die bure, wat die brand probeer blus het,” vertel Ntladi aan Maroela Media.

Heinz Heissner (53), ʼn lid van die gemeenskap wat een van die eerste mense op die toneel was, vertel hy het net na 07:00 sy dogter skool toe geneem toe hy die rook by die huis gewaar het.

“Ek het my dogter by die skool afgelaai en teruggery na die huis om te kyk wat aangaan. Ek het by die huis stilgehou en gesien die huis is aan die brand. Daar was reeds ʼn paar mense wat in die straat voor die huis rondgestaan het,” sê Heissner.

Heissner vertel die vrou se man, wat in ʼn woonstel op die erf bly, het uit sy woonstel gekom en gesê sy vrou is in die huis.

Ntladi sê die span het die traliehek en houtdeur van die huis afgebreek en só toegang tot die huis verkry (Foto: Netcare 911)

“Almal het rondgeskarrel om die brand in bedwang te bring. Die buurman het met ʼn tuinslang oor die muur gespring om die brand sover as moontlik te probeer blus.”

Heissner sê hulle het die glasdeur aan die agterkant van die huis probeer oopsluit. “Die oom het vir ons die slaapkamer gewys waar die tannie slaap, maar sy was nie in die kamer nie. Ons kon ook nie dieper in die huis ingaan nie weens die vlamme.”

Ntladi sê die span het die traliehek en houtdeur van die huis afgebreek en só toegang tot die huis verkry.

Netcare 911 se paramedici is net na 07:00 na die toneel ontbied (Foto: Netvare 911)

“Die huis was vol rook. Ons het ʼn vrou, in haar 50’s, bewusteloos op die kombuisvloer aangetref. Ons het haar na buite geneem waar ons haar aan paramedici van Netcare 911 oorhandig het.”

Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, het bevestig dat paramedici haar probeer bybring het, maar sy is op die toneel dood verklaar.

Ntladi sê die rampbestuurspan het ook vyf honde in die huis aangetref. “Die span kon daarin slaag om drie van hulle te red, maar was twee reeds dood,” sê hy.

Ntladi sê ʼn groot deel van dié tienslaapkamerhuis kon gered word. Hy sê in totaal het twee slaapkamers tot op die grond afgebrand.

“Daar word vermoed dat die brand in een van daardie slaapkamers uitgebreek het, maar die oorsaak van die brand word nog ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.