Vrou, twee kinders beseer in Fochville-ongeluk

Foto: ER24

Foto: ER24

ʼn 39-jarige vrou en twee kinders, onderskeidelik drie en 12 jaar oud, is beseer toe hul motor op die R500 buite Fochville in Gauteng omgeslaan en teen ʼn wal afgerol het.

“Paramedici het Saterdagaand net voor 21:00 by die toneel opgedaag,” het Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, in ʼn verklaring gesê. “’n Tata Indica het ongeveer 15 meter teen ʼn wal afgery. Paramedici moes versigtig teen die wal afklim waar die vrou en kinders in die motor vasgekeer was.”

Paramedici kon die driejarige deur ʼn gebreekte ruit uit die wrak haal en het met behandeling begin. “Hy was in ʼn ernstige toestand,” het Vermaak gesê.

Die plaaslike brandweer het die voertuig gestabiliseer en die vrou en 12-jarige uit die voertuig bevry. “Hulle was al twee ook in ʼn ernstige toestand. Hulle is teen die wal opgedra en in die ambulans behandel voor hulle na ʼn hospitaal gehaas is.”

Die vrou is na Carletonville-hospitaal geneem en die twee kinders na Leslie Williams-hospitaal vir verdere behandeling.

“Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie. Dit wil voorkom of die motor ʼn groot klip langs die pad getref het voor dit omgeslaan en teen die steilte afgerol het,” het hy bygevoeg.

Plaaslike owerhede stel ondersoek in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Peet Schabort ·

Die groot klip kon netsowel in die pad gelê het vóór die ongeluk. Indien ‘n vrou dit kan verhoed moet sy nie alleen in die nag op ‘n pad wees. Dis nie te sê dat my laaste sin betrekking het op die ongeluk.
Spoedige herstel aan julle almal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.