Vrou tydens kaping geskiet

Foto: ER24

ʼn 25-jarige vrou is Donderdagaand tydens ʼn kaping by ʼn winkelsentrum in Pinetown in KwaZulu-Natal geskiet.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die vrou het net haar inkopies by die winkelsentrum in New Germany afgehandel toe sy deur twee mans oorval is. Sy het omstreeks 19:00 haar inkopies in haar motor gelaai en by die bestuurderskant van haar motor ingeklim.

“Toe sy die deur wou toemaak, het sy gevoel hoe die deur oopgeruk word. Sy het probeer om die boosdoener te skop en die deur toe trek, maar ʼn tweede man het verskyn en sy makker gehelp om die deur oop te dwing,” het Zwane gesê.

Gedurende die struweling is die vrou in haar hand geskiet. Sy kon daarin slaag om deur die passasierskant uit die motor te kom en te vlug. Die polisie en nooddienste is na die toneel ontbied.

Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê paramedici het die vrou buite ʼn winkel by die sentrum aangetref. Hy het haar beserings as ernstig beskryf. Sy is op die toneel deur paramedici behandel voordat sy na ʼn hospitaal gehaas is vir verdere mediese behandeling.

Polisiebeamptes het die verdagtes agternagesit en hulle is ʼn kilometer van die toneel af in hegtenis geneem. “ʼn Vuurwapen en ʼn mes is in die verdagtes se besit gevind. Die vuurwapen sal vir ballistiese toetse gestuur word om te bepaal of dit in die uitvoer van enige ander misdade gebruik is,” het Zwane gesê.

Die twee verdagtes, 33 en 41 jaar oud, sal binnekort in die Pinetown-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Linda Gouws ·

“Thumbs up” vir die polisie se vinnige optrede! Ek hoop die slagoffer herstel tenvolle van haar beserings en trauma. Sluit verdagtes toe en gooi die sleutel weg.

Linda Gouws ·

Moet darem dankie sê aan die nooddienste ook. Hulle waag deesdae hulle lewens om menselewens te red!

PJC ·

Ek wonder waar was die sekuriteitswagte wat normaalweg by winkelsentrums is.

ALP ·

Reaksie baie goed gedoen. Wel gedaan aan die polisie van Pinetown.

Lolla ·

Jy is so braaf vrou! Bly jyt bietjie terug baklei, maar moet asb liefs nie weer so laat inkopies gaan doen nie. Bestel eerder online vir aflewering, siestog, sterkte met die herstel, dit moes n traumatiese ervaring gewees het. So bly die boewe is gevang! Hoop hulle se les op die helle!

PJC ·

Baie goed gestel Cherokee. Ek dink in elk geval hierdie sekuriteitswagte hou ń groter gevaar in vir die gewone publiek as vir die skelms. Hulle is oor die algemeen onopgelei en onderbetaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.