Vrou tydens rooftog by Pta-kuierplek geskiet

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn Jong vrou is Saterdag in die vroeë oggendure tydens ʼn rooftog by ʼn kuierplek in Moreletapark, Pretoria, geskiet.

Kapt. Anton Breedt, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het net ná 02:00 by ʼn kuierplek in Wekkerstraat gebeur, maar hy wou nie die naam van die onderneming bekendmaak nie. “Volgens ooggetuies op die toneel was die bestuurder op pad om die plek te sluit toe dit gebeur het. ʼn Kelner en die platejoggie was ook nog daar, maar ons is nie seker hoeveel kliënte nog in die plek was nie,” het Breedt gesê.

“Die drie personeellede se aandag is getrek deur die geluid van ʼn geweerskoot en toe hulle opkyk, het ʼn gewapende rower in die deur gestaan. Hulle is aangesê om plat op die vloer te lê en is van ʼn onbekende bedrag kontant, persoonlike besittings en musiektoerusting beroof.”

Breedt het gesê ʼn 19-jarige vrou is tydens die rooftog in die been geskiet. Dit is egter nie duidelik of sy binne of buite die kuierplek was toe dit gebeur het nie. Die verdagtes het onmiddellik daarna gevlug. “Ons weet daar was meer as een verdagte, maar ons is nie seker presies hoeveel nie aangesien die slagoffers moes afkyk terwyl die rooftog aan die gang was,” het Breedt gesê.

Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici het die vrou op die toneel vir ʼn skietwond in haar been behandel voordat sy na ʼn hospitaal vervoer is.

ʼn Saak van poging tot moord en gewapende roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Ken ·

Sekuriteitsmaatskappye moet begin om snipers te plaas op sensitiewe tye soos wanneer besighede laatnag sluit.

Grap ·

Weereens swak verslaggewing gee beter beskrywing van die aanvallers watter nasionaliteit lengte,enige littekens wat uit kenbaar sal wees sodat die publiek kan help more maak hulle mense dood swak swak verslaggewing.

Veritas ·

Alvier of vyf rowers was van twyfelagtige afkoms, gemiddelde lengte, vreemde aksent en moontlik operasiemerke onder hul klere. Hoop dié inligting help jou 007.

Veritas ·

Koos ek verstaan baie goed wat Grap bedoel. Ek verstaan ook dat die voorval in die vroeë oggendure plaasgevind het. Die eienaar was besig om te sluit m.a.w van die ligte was moontlik al afgeskakel en sigbaarheid sekerlik nie so goed nie. Ek verstaan ook dat dit ‘n ‘kuierplek’ was, wat soos ek verstaan ‘n oog of kroeg is. Meeste besoekers wat om 02h00 uit ‘n drinkplek stap, is waarskynlik aangeklam en dit veroorsaak dat die waarnemingsvermoë nie te wonderlik kon wees nie. Probeer gerus om, na ‘n paar drankies, somme te maak. Die optel en aftrek werk nie so lekker nie om nie eers te praat van die rondbeweeg van die oortreders nie. Voeg daarby die feit dat die skok van die gebeure, kon bydra tot angstigheid wat die rasionele denke negatief kan beïnvloed en verwarring kan skep. Daar bestaan natuurlik ook die moontlikheid dat die rowers gemasker kon wees. Nee- wat ek glo nie ons gaan ‘n goeie beskrywing van die kriminele kry nie.

Koos ·

Ek verstaan ook nie boet ons nou feite in sodat die berig polities korrek kan wees….dit is jammer.

Cherokee ·

Julle sê altyd ‘niemand is nog in hegtenis geneem nie.’
‘Nog niemand is in hegtenis geneem nie’ klink mi na beter woordgebruik.

Irene ·

Dit gaan erg ib SA My broer is Vrydag aand in Danville Pretoria erg aangerand deur 6 mans met pistole wou hom skiet Hoe loop elke jan rap en sy maat in strate met pistole om mense seer te maak

humor ·

Veritas skote Petoors jou inligting kan baie lig op die duistere saak werp en vir Grap van groot waarde wees.

Sputnik ·

As jy die beriggewing so swak vind, waarom dit enigsins lees? Kan jy beter doen? Nou waarom skryf jy nie berigte vir Maroela nie?

Nico K ·

Die mense wat so kla oor die swak beriggewing irriteer my. Verstaan to nou, Maroela media het nie verslaggewers op die toneel nie. Hulle kry slegs ‘n verslag van die SAPS. Die dag as julle betaal vir hierdie nuus dan kan julle kla.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.