Kapt. Anton Breedt, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die voorval het net ná 02:00 by ʼn kuierplek in Wekkerstraat gebeur, maar hy wou nie die naam van die onderneming bekendmaak nie. “Volgens ooggetuies op die toneel was die bestuurder op pad om die plek te sluit toe dit gebeur het. ʼn Kelner en die platejoggie was ook nog daar, maar ons is nie seker hoeveel kliënte nog in die plek was nie,” het Breedt gesê.
“Die drie personeellede se aandag is getrek deur die geluid van ʼn geweerskoot en toe hulle opkyk, het ʼn gewapende rower in die deur gestaan. Hulle is aangesê om plat op die vloer te lê en is van ʼn onbekende bedrag kontant, persoonlike besittings en musiektoerusting beroof.”
Breedt het gesê ʼn 19-jarige vrou is tydens die rooftog in die been geskiet. Dit is egter nie duidelik of sy binne of buite die kuierplek was toe dit gebeur het nie. Die verdagtes het onmiddellik daarna gevlug. “Ons weet daar was meer as een verdagte, maar ons is nie seker presies hoeveel nie aangesien die slagoffers moes afkyk terwyl die rooftog aan die gang was,” het Breedt gesê.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici het die vrou op die toneel vir ʼn skietwond in haar been behandel voordat sy na ʼn hospitaal vervoer is.
ʼn Saak van poging tot moord en gewapende roof word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Sekuriteitsmaatskappye moet begin om snipers te plaas op sensitiewe tye soos wanneer besighede laatnag sluit.
Weereens swak verslaggewing gee beter beskrywing van die aanvallers watter nasionaliteit lengte,enige littekens wat uit kenbaar sal wees sodat die publiek kan help more maak hulle mense dood swak swak verslaggewing.
Ek verstaan ook nie boet ons nou feite in sodat die berig polities korrek kan wees….dit is jammer.
Julle sê altyd ‘niemand is nog in hegtenis geneem nie.’
‘Nog niemand is in hegtenis geneem nie’ klink mi na beter woordgebruik.
Dit gaan erg ib SA My broer is Vrydag aand in Danville Pretoria erg aangerand deur 6 mans met pistole wou hom skiet Hoe loop elke jan rap en sy maat in strate met pistole om mense seer te maak