Vrou ure lank onder trok vasgepen

Foto: Life24 Ambulansdienste

Foto: Life24 Ambulansdienste

ʼn Vrou is Saterdagaand op ʼn ongelukstoneel in Elandskraal, noord van Marble Hall gered nadat sy vir ure lank onder ʼn vragmotor vasgepen was.

Mercia Blake, woordvoerder van Life24 ambulansdienste, het gesê die 36 ton vragmotor het glo omgeslaan en vermoedelik verskeie kere gerol voordat dit op sy dak tot stilstand gekom het.

“Toe ons by die toneel opdaag, het die bestuurder self uit die vragmotor uit geklim, maar sy 31-jarige vrou en driejarige seuntjie was nog daarin vasgekeer,” het sy gesê. Sy het verduidelik die seuntjie was in die kajuit vasgekeer en die vrou was tussen die vragmotor en ʼn doringbos vasgepen.

“Charl Blake, een van die paramedici, het eers in die kajuit geklim om die seuntjie uit te haal. Daarna het reddingswerkers, polisiebeamptes en lede van die brandweerdienste ure lank gespook om die vrou ook te red.”

Volgens Blake het hulle eers probeer om die vragmotor met ʼn insleepvoertuig op te lig om die vrou te bevry, maar hulle kon dit nie oplig nie. Daarna het hulle probeer om die vrou te bevry deur die wrak met meganiese toerusting oop te sny, maar dit was ook onsuksesvol. Die vrou is uiteindelik gered nadat die grond onder haar weggegrawe is.

Die egpaar en hul seun is met veelvuldige beserings na ʼn hospitaal geneem.

“Dit was ʼn lang en baie spanningsvolle reddingspoging, maar ons is dankbaar ons kon die hele gesin red. Dit is werklik ʼn wonderwerk dat niemand in die ongeluk omgekom het nie,” het Blake gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.