Vrou val 3 m toe hysbak se kabel breek

Riekie Greyling (Foto: Facebook)

’n Vrou van Pretoria lê steeds in die waakeenheid van ’n Johannesburgse hospitaal nadat sy 11 dae gelede sowat drie meter na die grond getuimel het toe die hysbak waarin sy was se kabel gebreek het.

Die 65-jarige Riekie Greyling se hakskene is albei vergruis, en sy het haar rug, borsbeen, arm en vinger in die val gebreek. Sy het ook harsingskudding opgedoen.

Greyling is ʼn familielid van die Afrikaanse sanger en radio-omroeper, MD Greyling.

Ansi Buitendag, ’n vriendin van Greyling, het Donderdag aan Maroela Media gesê dat Greyling op 30 September by Buitendag se huis in Waterfall, Johannesburg, kom kuier het. Buitendag het ’n hysbak in haar huis.

“Dit is eintlik ironies aangesien Riekie nooit met die hysbak wou ry nie. Ons wou die Sondagmiddag gaan rus en aangesien sy met haar longe sukkel, het ek vir haar gesê om met die hysbak na bo in die huis te ry.” Buitendag vertel dat Greyling byna bo was toe die kabel skielik breek en die hysbak die grond met ʼn slag getref het.

Volgens Buitendag het sy dadelik geweet Greyling is ernstig beseer en kon sy genadiglik maklik by haar uitkom. Sy het die nooddienste na die huis ontbied en hulle was binne 15 minute op die toneel. Greyling is na die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg gehaas waar sy tans aansterk.

Greyling se linkervoet sal Donderdagaand weer opereer word. “Haar dokter is versigtig optimisties,” sê Buitendag. Sy vertel dat Greyling vir die volgende twee weke nog in die waakeenheid sal aansterk waarna sy na ’n ortopediese saal oorgeskuif sal word. “Dokters sê sy sal weer kan loop, maar op ’n skaal van 1 tot 10, is haar pyn 500.”

Selfs nadat sy uit die hospitaal ontslaan word, gaan ’n lang pad van herstel vir Greyling voorlê. Volgens Buitendag sal sy na ’n rehabilitasiesentrum gaan wanneer sy ontslaan word en vir tussen vier tot ses maande in ’n rolstoel moet wees.

“Ons het net reggemaak vir ’n middagrussie, toe verander ons lewens onherroeplik,” sê sy.

Greyling het byna twee maande gelede afgetree ná ’n lang loopbaan in die media en die twee vriendinne sou binnekort na Indië reis. Dié planne moes noodgedwonge gekanselleer word.

Buitendag het die nooddienste geloof en bedank vir hul wonderlike diens. “Hulle was ongelooflik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

IK ·

Ry in ‘n mynskag se hysbak wat skielik uitskop (trip) en ervaar die verskil tussen wanneer dit opwaarts of afwaarts gebeur. Die een oomblik is jy teen die dak en dan op die vloer. Dan sien jy die skynsel van een stasievlak se ligte en dan weer die ander. Die vlakke is gewoonlik 75m van mekaar. Wanneer vol gelaai met mense (45 per dek) gaan dit nog aan maar wanneer net ‘n paar breek jy ook maklik ledemate op die spore (vir karre en lokomotiewe se laai) van die hysbak. Dis erger as ‘n ‘roller coaster’ en glad nie opwindend.

Cherokee ·

IK, jy praat van toue van staal in skagte wat dikwels heelwat meer as ‘n kilometer diep is. Die manier waarop die toue gevleg is, laat dit toe om soveel meters te rek as wat jy hier beskryf.

Karolis ·

Iewers in die wet praat hulle van ‘n noodrem of noodstop meganisme waarmee ‘n hysbak toegerus moet wees. Het die betrokke een so iets gehad wonder ek nou?

Cherokee ·

Karolis, die sisteem werk op spoed en as dit overspeed gryp dit vas aan die spore (guides) waarop dit hardloop. Onprakties vir ‘n woonhuis omdat die skag te vlak is daarvoor.

JM ·

Was die hyskraan se kabel al ooit getoets of vervang, Dit is tog ‘n wetlike vereiste dat dit elke jaar getoets moet word

Cheryl ·

Baie Sterkte en voorspoed vir spoedige herstel vir Tannie. Solank ek nog kan vat ek die trappe eerder, nog nooit van ‘n hysbak gehou nie

alida ·

Hierdie was ‘n gewone woonhuis en kan nie vergelyk word met hysers in hoë geboue of mynskagte nie. Ongelukkige ongeluk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.