ʼn Vrou, vermoedelik 35 jaar oud, is Donderdagaand in die Vrystaat dood toe sy van ʼn swaarvoertuig geval en daarna deur ʼn motor getref is.
Nick Dollman, woordvoerder van Netcare 911, het gesê die voorval het teen 21:15 op die N5 sowat 10 km buite Kestell in die rigting van Harrismith plaasgevind.
“Die vrou het vermoedelik agterop die vragmotor gery toe sy glo afgeval het. Sy het in die pad beland en is daarna deur ʼn verbygaande voertuig getref,” het Dollman gesê.
Die vrou het reeds aan veelvuldige beserings beswyk toe paramedici by die toneel opdaag. Die insittendes van die motor was erg geskok, maar het geen beserings opgedoen nie.”
Die polisie ondersoek die voorval.