Vrou van ‘roofbende’ in hof

hof-hamer

Argieffoto

Die vrou wat vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is in verband met die rooftog van ʼn sjokoladewinkel in Boksburg is sedertdien geïdentifiseer as die 26-jarige Linda Samantha Carolina Venter.

Sy het Woensdag in die plaaslike streekshof verskyn op twee aanklagte van roof nadat sy Dinsdag in hegtenis geneem is vir haar betrokkenheid by die rooftog van die sjokoladewinkel in Jetpark.

Venter word na bewering ook met verskeie ander misdade oor die hele Gauteng verbind waaronder die moord op dr. Freddie Malan, die geliefde veearts van Pretoria wat in Januarie in sy praktyk doodgeskiet is.

Phindi Louw-Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het aan Maroela Media gesê die saak teen Venter is gister tot 2 September uitgestel sodat die beskuldigde ʼn regsverteenwoordiger kan aanstel.

Venter sal na verwagting dán om borgtog aansoek doen. Sy bly tot dan in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig die vrou het na bewering saam met ʼn bende op verskeie veeartspraktyke en later ander ondernemings toegeslaan.

Malan is tydens só ʼn rooftog doodgeskiet toe ʼn vrou en twee mans die betrokke aand op die Jakaranda-dierehospitaal toegeslaan het. Die vrou het op die dag van Malan se moord in die dierehospitaal ingekom om kwansuis meer uit te vind oor die behandeling van ʼn troeteldier waarna sy die hek vir haar twee makkers oopgehou het.

Sedertdien word die trio met nie minder nie as 27 misdaadsake verbind, waaronder die rooftog van die sjokoladewinkel.

Altesaam 16 verdagtes het egter tydens dié rooftog toegeslaan en dit het duidelik geword dat die groep sy teiken en mannekrag vergroot het.

Venter is die enigste lid van die roofbende wat tot dusver in hegtenis geneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

24 Kommentare

jongste oudste gewildste
marous

Hoe word sy verbind met ‘n moord maar nie aangekla nie ?

Wielspore

Die vrou het nie ‘n tekort gehad aan voorbeelde om skuilname te gebruik, haar eie name, Linda Samantha Carolina Venter het die potensiaal om heelwat name te skep.
Van die video’s wat beskikbaar is terwyl sy misdaad pleeg kom sy gemaklik en ontspanne voor, asof dit ‘n gereelde daad is.
Sy moet maar vorendag kom met haar medepligtiges se name sodat hulle kan tereg staan vir moord en roof.

toy

‘n Mens verwag nie dat ‘n vrou betrokke sal wees by rooftogte nie.

Johan

As sy skuldig is, verdien sy lewenslange tronkstraf

Susan

Please share her Facebook profile with us – I want to see what a young female murderer looks like!