Vrou van vermoorde Pofadder-man se borgtog uitgestel

Leon Brits en sy vrou Suretha. (Foto: Verskaf)

Suretha Brits (30), vrou van die vermoorde Leon Brits (41), eienaar van die gewilde Pofadder-hotel in die Noord-Kaap, se formele aansoek om borgtog het Woensdag in die plaaslike landdroshof begin.

Kapt. Sergio Kock, woordvoerder van die polisie, sê haar borgtogaansoek sal op 29 en 30 April voortgaan en sy bly in aanhouding.

Sy staan tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en meineed.

Brits se inhegtenisneming verlede Maandag vir die moord van haar man het skokgolwe deur die dorp gestuur.

Maroela Media het vroeër berig Leon Brits is op 7 Oktober verlede jaar met meswonde dood aangetref. Hy is vermoedelik verwurg en met ʼn skerp voorwerp gesteek voordat sy liggaam in ʼn onderdakswembad agtergelaat is. Suretha het op sy liggaam in die swembad afgekom.

Verskeie waardevolle items, waaronder vuurwapens, ʼn selfoon, Krugerrande, diamante en geld is glo op die perseel gesteel.

Drie mans, Jacques van Vuuren (34), Amantle Bareki (24) en Enrich Williams (37), is reeds in verband met Leon se moord in hegtenis geneem.

Van Vuuren is in die hooggeregshof in Kimberley ingevolge ʼn pleitooreenkoms gevonnis. Hy is 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord, waarvan vyf jaar opgeskort is. Van Vuuren is ook gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Die vonnisse word gelyklopend uitgedien en Van Vuuren sal effektief 20 jaar agter tralies sit.

Bareki en Williams is op 20 November verlede jaar op waarskuwing vrygelaat. Hulle staan ook tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Hulle sal na verwagting weer op 17 Mei in die landdroshof op Pofadder verskyn.

Kock sê die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

JohanR ·

Om iemand te huur om jou man/vrou te vermoor al ooit gewerk? Weereens is iemand gehuur om die man te vermoor, en weereens is almal vas. Lyk asof die ook ‘n liefdes driehoek/vierhoek of vyfhoek was? As soe, hoekom nie net skei sonder om moord te pleeg nie?

Karel Kobus Kruger ·

Party mense moet eintlik net eenvoudig nie trou nie. Minder probleme, en sommer baie goedkoper ook.

deHAS ·

As sy geld wou hê, daars lykmy genoeg ‘kliente” by wie sy kon vra het.

Thelsa ·

Dit is maar hoe dit in die ondersoekwêreld gaan in die geval van kriminele oortredings. Begin ALTYD eers naby die slagoffer soek en daarna eers wyer.

Antoinette ·

Thelsa ek stem volkome saam met jou. Wat van die kinders wat die gesin het? Het sy daaraan gedink wat gaan met hulle gebeur? Hoekom nie geskei nie? Man is ook nie meer hier om homself te verdedig nie. So hele deurmekaar spul en baie hartseer vir al hul geliefdes.

Daleen ·

Daar is GEEN rede wat dit regverdig om jou man/vrou/meisie/ou of enige iemand anders te laat vermoor nie. Nee wat lekker tronk toe gaan en ek hoop jou lewe word hel gemaak daar binne want jy het nie ‘n sekond aan jou kinders of sy familie se seer gedink nie.

Androclus ·

Ja wat sy het gedink aan die lekkerte daar na en min wis sy is besig om haar tronk toe gaan dinge reg te maak.

Lindi ·

“Ek verstaan dit wraggies nie! Hoe op aarde laar jy moordenaars op waarskuwing vry?

Bareki en Williams is op 20 November verlede jaar op waarskuwing vrygelaat. Hulle staan ook tereg op aanklag van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen”

Fritz ·

Die regs profesie kan baat by ekstra vereistes vir regters. Dalk n ekstra wiskundige tipe graad om intelligensie te bewys, en nie net n skamele LLB graad nie.

Fedup ·

And amantle bareki ?
Did is miss something or was he let go?

katerinadiekat ·

Ek dink nie jou voorkoms het iets daarmee te doen of jy evil kan wees, of nie. Mooi mense,mans en vroue, kry dit net makliker reg want hulle is meer geneig om gesog te wees en ingeneem te word in andere se lewens en wonings. Maar boosheid word daagliks op hierdie planeet gepleeg deur die bank, deur die lelikes, die mooies en die gemiddeldes.

Gert K ·

Ek sê nie dit is so nie, maar ek reken dat ‘n egskeiding nie hier die gewensde uitwerking sou hê nie,
ek reken eerder, die motief was om geld te bekom en dit kan net betaal word as die persoon oorlede is.
Maar ek dink ook daar was ‘n driehoek en Lindi dit wat jy sê verstaan ek ook nie. Ewenwel dit is boos
en dit is hartseer.

Meisie ·

Dalk het sy dit gedoen omdat hulle buite gemeenskap van goedere en sonder die aanwas getroud is/was? As hulle sou skei sou sy boggerol gekry het nie, neem aan sy besit ook geen gedeelte van die hotel nie..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.