Vrou vas ná klagte oor gewapende roof

Argieffoto

ʼn Vier-en-dertigjarige vrou van Bayswater in Bloemfontein is in hegtenis geneem nadat sy glo ʼn gewapende rooftog versin het. Die vrou beweer rowers het haar selfoon en skootrekenaar gebuit, maar dit blyk nou sy het die beweerde rowers betaal om van haar elektroniese besittings ontslae te raak.

Die vrou het verlede Woensdag die klag van roof by die polisie in Bayswater aanhangig gemaak.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het gesê die vrou het beweer dat sy omstreeks 08:30 die betrokke oggend werk toe gery het, toe sy skielik deur twee mans op die hoek van Gascony- en Olympusstraat in Bloemfontein voorgekeer is. Volgens haar het die twee mans haar voertuig se deur oopgeruk en ʼn vuurwapen in haar rigting gerig. Hulle is toe met haar skootrekenaar en selfoon vort.

’n Voorlopige ondersoek het egter getoon dat die verklaring wat sy by die polisie ingedien het, nie heeltemal sin maak nie. “Sy is ingeroep vir nadere ondersoek en dit het toe aan die lig gekom dat sy die hele voorval versin het. Sy het erken dat sy haar skootrekenaar en selfoon vir die mans gegee het sodat hulle daarvan kon ontslae raak in ruil vir ʼn R500-beloning,” het Makhele gesê.

Die vrou is ʼn dag na sy die klag by die polisie gelê het, vir meineed in hegtenis geneem. Sy is op waarskuwing vrygelaat en sal na verwagting Dinsdag in die Bloemfonteinse landdroshof verskyn.

Genl.maj. Solly Lesia, waarnemende provinsiale kommissaris van die Vrystaat, het gesê hierdie voorval is ʼn waarskuwing vir diegene wat staatshulpbronne vir selfsugtige redes wil gebruik. “Hierdie hulpbronne kon gebruik word om mense wat in werklike nood verkeer, te help. Ons sal nie sulke gedrag duld nie en sal toesien dat diegene wat daarvoor verantwoordelik is, aanspreeklik gehou word, ” het Lesia gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Nicky

Maar hoekom sal sy dit doen?

Misky

Seker maar gevoel dis tyd vir n nuwe selfoon en laptop….. Die eerlike en reguit pad is maar net soveel makliker en n ou sit sy met baie onnodige probleme en drama.

Michael

Sulke mense moet gename en shame word

Danny

Ek wil graag weet watter getal of persentasie mense al die versekerings gekul het….

Sarel

Hoekom was die man wat vals getuieniscgelewerbhet in die Coligny saak nie ook aangekla nie. Hy het meineed gepleeg