ʼn Pasgebore baba wat Woensdagmiddag uit haar bedjie in die Robert Mangaliso Sobukwe-hospitaal (RMSH) in die Noord-Kaap verdwyn het, is opgespoor en Vrydagoggend ongedeerd gevind.
Die voorval het wyd kritiek ontlok, ook omdat die polisie eers teen laat Donderdagmiddag ʼn verklaring uitgereik het waarin hulle mense se hulp vra om die babadogtertjie op te spoor. Teen Donderdagaand was daar nog geen teken van die baba nie en het die provinsiale departement van gesondheid bevestig dat ʼn saak van ʼn vermiste baba by die polisie aanhangig gemaak is.
Natasha Japhta (26) het aan News24 gesê sy en haar pasgebore dogter, Lezaane, is Saterdag kort ná die dogtertjie se geboorte met ʼn lugambulans van De Aar na Kimberley gevlieg sodat Lezaane – wat ernstige longprobleme ondervind het – spesialisbehandeling in die neonatale intensiewesorgeenheid daar kon ontvang.
Teen Woensdag het klein Lezaane se toestand sodanig verbeter dat die hospitaal haar kon ontslaan.
Teen Woensdag om 16:00 was Japhta glo besig met die laaste administrasie om huis toe te kan gaan.
Volgens haar het sy aan personeel in die saal gesê dat sy Lezaane eers in haar bedjie los. Met haar terugkeer het net die babadogtertjie se komberse in die bed gelê. Sy was spoorloos.
Japhta sê ʼn vrou wat agterdog gewek het, en wat sy af en toe by die saal opgemerk het, het in haar geheue opgeduik.
Dié vrou het glo gereeld in die wagkamer voor die K3-saal waaruit Lezaane verdwyn het, gesit. Sy het glo ʼn pienk kamerjas aangehad en haar gesig was bedek. Die vrou het glo vroeër ʼn miskraam gehad.
Ná Lezaane se verdwyning is die kamerjas glo onder een van die masjiene aan die voorkant van die saal gevind.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê ʼn 21-jarige vrou is in hegtenis geneem. Die polisie in Kimberley se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe het die pasgebore baba – twee dae ná haar ontvoering – omstreeks 09:00 by die verdagte se huis in Greenpoint in Kimberley gevind.
Dit is onduidelik of dié vrou dieselfde persoon is wat Japhta vroeër by die hospitaal opgemerk het.
“Die baba sal prosedurele mediese waarneming ondergaan en met haar ouers herenig word,” sê Kock.
Lt.genl. Koliswa Otola, Noord-Kaapse polisiehoof, het beamptes vir “hul meedoënlose pogings” om klein Lezaane te vind, bedank. Sy het ook die gemeenskap vir hul hulp in die opsporing van die baba geloof.
Wat kan mens ‘n pasgebore baba deesdae woor verkoop…..R100000? Of was die baba nodig vir muti, en bestel deur ‘n sangoma? Enigeiets is moontlik in die siek ANC land!
Pessimisme is onnodig. Dit kon ook ‘n vrou gewees het wat die baba wou grootmaak.
So dankbaar dut kon anders verloop het..
Vraag net was daar niemand in due saal wat onraad vermoed het nie
Onder die omstandighede is ek baie dankbaar dat kleine Lezaane wel gevind is en veilig is. Die res is ‘n bysaak.
Dankie Here.