Vrou vas na sy glo tienerma se baba ontvoer

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

Argieffoto Foto: HeikeIr, Pixabay

ʼn Vrou is Donderdag in hegtenis geneem nadat sy glo ʼn baba van drie weke oud uit ʼn hospitaal in die Fuyeni-gebied in Empangeni ontvoer het.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die 23-jarige verdagte het die baba se 17-jarige ma glo aangeraai om die kind Dinsdag hospitaal toe te neem vir ʼn algemene ondersoek. Die vrou het die ma gehelp om die regte afdeling in die hospitaal te vind en by haar gebly tydens die ondersoek.

“Nadat die baba ondersoek is, het die verdagte aangebied om na die baba te kyk terwyl die ma gaan kos koop,” het Zwane gesê. “Toe die ma terugkeer, het die vrou met die baba verdwyn.”

ʼn Saak is by die Empangeni-kinderbeskermingseenheid aanhangig gemaak en die verdagte is twee dae later vasgetrek. Die baba is by die verdagte gevind en hospitaal toe geneem vir ʼn ondersoek. “Die verdagte sal binnekort in die Empangeni-landdroshof verskyn op aanklag van ontvoering,” het Zwane gesê.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het ʼn beroep op ouers gedoen om nie hulle kinders in die sorg van vreemdelinge te laat nie. “Ouers moet altyd sorg dat hulle hul kinders kan sien wanneer die kind vir iemand anders gegee word,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.