Vrou vas ná sy lieg oor ‘kantoorrooftog’

polisie-sapd

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie in Pretoria het lede van die publiek gewaarsku om nié valse sake by die polisie aanhangig te maak nie aangesien dit ʼn strafregtelike oortreding is en mense hiervoor vervolg kan word.

Dít volg nadat ʼn Pretoriase vrou die afgelope naweek in hegtenis geneem is nadat sy glo gejok het oor ʼn kamstige rooftog wat sy beweer by ʼn internetkafee in Waverley plaasgevind het.

Kapt. Colette Weilbach, woordvoerder van die polisie, sê die vrou, ʼn werknemer van die internetkafee, het verlede week aan die polisie beweer sy was in die kombuis by die kantoor toe ʼn onbekende man binnegekom en haar met ʼn mes gedreig het. Sy beweer die rower het geld geëis en gedreig dat hy sal terugkom om nog geld te kry.

Die vrou het aan die polisie gesê sy het geld uit die kontantkissie aan hom gegee waarna hy op die vlug geslaan het.

“’n Saak van sakeroof is by die Villiera-polisiestasie aanhangig gemaak en ervare speurders van die Tshwane-Sentraal-polisiegroepering se trio-taakspan is opdrag gegee om dadelik met die ondersoek te begin. Die ondersoekbeamptes het opgemerk daar is teenstrydige inligting in die verklaring,” sê Weilbach.

“Die vrou is later ondervra en sy het toe erken sy het die voorval versin. Die 26-jarige vrou is op aanklag van meineed en dwarsboming van die gereg in hegtenis geneem.”

Weilbach sê die aanmelding van valse sake is ʼn ernstige oortreding wat nie net die polisie se hulpbronne mors nie, maar hulle ook weghou van werklike ondersoeke af wat hul aandag benodig. “Waardevolle hulpbronne word vermors en lewens kan in gevaar gestel word,” sê sy.

Weilbach sê die SAPD vind dat mense dikwels valse klagte indien oor beweerde “straatrooftogte” of “diefstal uit voertuie” wanneer hulle selfone of skootrekenaars verloor omdat hulle bang is versekeringsmaatskappye sal nie uitbetaal as hulle nie ʼn polisiesaaknommer het nie. Sy beklemtoon dat die polisie en versekeringsmaatskappye met mekaar in gesprek tree wanneer vermoed word dat nalatigheid betrokke was of ʼn valse saak aanhangig gemaak is.

“In ʼn poging om valse sake te identifiseer, sal die polisie altyd voertuie ondersoek wanneer daar beweer word dat iets uit die voertuig gesteel is. As die voertuig reeds herstel is, sal ʼn kwitansie van die betrokke herstelwerk gelewer moet word. Alle huisbraak- en ander misdaadtonele word altyd besoek, ooggetuies word ondervra en kringtelevisiebeeldmateriaal word nagegaan. Dit is alles deel van die polisie se ondersoekprosedures en die polisie móét vrae vra wanneer sulke sake aangemeld word.”

Enige misdaadwenke kan by Stop Misdaad, 0860 010 111, aangemeld word of stuur ʼn SMS na 32211.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

zoom zoom ·

As die eiennaar van die besigheid nou die werker sou afdank vir wat Sy gedoen het al het die winkel geen verliese gehad het hy al wat vakbond en partye op Sy Nek. Maar Sy kan vals klagtes by die polisie lê. Die vrou is volgens my onbetroubaar.

Gerhardb ·

Ja, Dit is hoekom ons sulke groot bedrae geld moet betaal vir versekering….

WH van der Merwe ·

Dat die polisie sulke sake ondersoek is twak,daar is twee keer al by my ingebreek en een keer moes ek vir die speurder op sy kantoor gaan vra wanneer kom kyk hy na die storie n week later,tweede keer wag ek nog dat hulle kom en dit amper twee jaar later,weet mos nou hulle stel nie belang nie

Hennie ·

As mens glo wat hier verduidelik word hoe elke saak ondersoek word, glo jy verseker nog aan Kersvader en die Paashaas!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.