Vrou vas ná vierjarige in tas gevind is

Klein Keeya Mbulawa (Foto: X)

ʼn Verdagte is uiteindelik in hegtenis geneem in verband met die moord op die vierjarige Keeya Mbulawa wat op 13 Januarie bewusteloos en vasgebind in ʼn tas by ʼn vrou in Soweto gevind is.

Keeya is verlede maand vier dae lank in die waakeenheid van ’n hospitaal behandel voordat sy op 17 Januarie in die hospitaal dood is.

ʼn Vrou word nou van haar ontvoering en moord aangekla.

Lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê die vrou is Woensdag in Protea Glen in hegtenis geneem nadat ʼn lid van die publiek haar op straat gesien en die polisie laat weet het.

Die vrou sal na verwagting Vrydag vir die eerste keer in die Protea-landdroshof in Soweto verskyn.

Keeya het op 13 Januarie saam met haar maats gespeel toe sy verdwyn het. Volgens Masondo het Keeya se ma in ʼn stadium na haar begin soek en die huurder op die erf, wat besig was om te verhuis, se tasse deursoek.

Keeya se ma het haar in ʼn pienk tas aangetref. Die dogtertjie se hande en voete was vasgebind en ʼn lap was in haar mond gestop. Keeya het egter in daardie stadium nog geleef.

Die dogtertjie is in ʼn “ernstige dog stabiele toestand” na ʼn mediese fasiliteit gehaas maar is vier dae later dood.

Die huurder het, nadat Keeya in die tas gevind is, dadelik op die gevlug geslaan en was tot Woensdag, meer as ses weke later, nog soek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

LIEZL ·

Soveel mammas en pappas wat die eer gekry het om ‘n mamma en pappa te word. Soveel mammas en pappas wat dit nooit ooit verdien nie. So jammer om hul ‘n mamma en ‘n pappa te noem. Voel so jammer vir die onskuldiges wat daaronder lei. Sou elkeen styf wou vasdruk en jou net die beste wou gee en laat weet jy is waardig, jy is geliefd, jy is spesiaal

Mel84 ·

HOE doen mense dit!!!!!!! My keel wil toetrek as ek dink aan die laaste oomblikke wat daardie kind moes deurmaak. Vasgebind, bang, huilend…dis VERSKRIKLIK. HOE?????

Brakanjan ·

@LIEZL Die ma het niks verkeerd gedoen in die geval nie. So verstaan nie hoekom jy die kommentaar gelewer het nie. Het jy die artikel gelees?

Karoo ·

Ek wonder…. of die Ma aanhou die kind se geld sou trek as sy met die daad sou wegkom.

Cassie Carstens ·

Wat het van ons land se vriendelike mense se siele geword? So hartseer en wreed!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.