Vrou vas nadat sy valse klag lê

Argieffoto: SAPD

ʼn Vrou sou Maandag in die Barberton-landdroshof in Mpumalanga verskyn nadat sy oor die naweek ʼn valse aanklagte by die polisie aanhangig gemaak het. Sy word van meineed aangekla.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, sê in ʼn verklaring die vrou (32) is Saterdag in Lowscreek in hegtenis geneem. Dít nadat die vrou ʼn aanklagte van roof by die plaaslike polisiestasie aangemeld het.

Die vrou het beweer dat sy as administratiewe klerk by ʼn maatskappy werk waar sy kwansuis van haar skootrekenaar en kontant beroof is.

Volgens Hlathi het ʼn voorlopige ondersoek egter getoon dat die vrou die voorval versin het en vals name aan die polisie verskaf het.

Later sou die polisie uitvind dat die vrou ook vantevore haarself as ’n sleutelgetuie voorgedoen het wat onder getuiebeskermingsdienste geplaas is. Sy het ook beweer dat sy ’n regskenner in ’n hoëprofielsaak is, sodat sy verblyfvoordele kon geniet.

Hlathi vertel dit het ook aan die lig gekom dat die vrou ’n hofverskyning in verband met ’n ander saak waar sy in die besit van inbraakinstrumente betrap is, misgeloop het.

Volgens Hlathi kan verdere aanklagtes teen die vrou na vore kom.

Lt.genl. Mondli Zuma, provinsiale polisiekommissaris, het intussen die valse aanklagte veroordeel.

“Elke saak wat by die polisie aangemeld word, word baie ernstig opgeneem en die nodige hulpbronne word gebruik om só ’n saak op te los, veral wanneer ’n saak deur ’n vrou aangemeld word. Die hulpbronne kon elders aangewend word om diegene te help wat regtig hulp nodig het. Ons moet ’n voorbeeld hiermee stel en ons hoop dat daar ’n les geleer kan word,” sê Zuma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anti Da ·

Klink my zuma blaas op sy eie trompet voor hy vakansie vat.

Sarel ·

Kyk na string klagtes, horkom is sy nog op vrye voet. Net in SA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.