Vrou vas oor pasgebore baba in sak

Argieffoto

ʼn Vrou is vandeesweek op aanklag van ontvoering in hegtenis geneem nadat ʼn pasgebore baba in ʼn sak vol tamaties en uie gevind is wat sy by haar gedra het.

Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse Metropolisie (JMPD), sê die vrou is Woensdag omstreeks 18:30 op die hoek van Simmonds- en Lilian Ngoyestraat in hegtenis geneem. “Omstanders het gehoor hoe ʼn baba huil onder die tamaties en uie wat die vrou in ʼn sak by haar gedra het,” sê hy. Hulle het dadelik die metropolisie ontbied.

ʼn Pasgebore baba met sy naelstring steeds vasgeheg, is in die sak gevind. Die vrou het aanvanklik beweer sy het op die straat geboorte gegee en later beweer sy het by die hospitaal gekraam. “Die hospitaal het egter bevestig dat sy nooit daar geboorte gegee het nie,” sê Minnaar.

Die vrou is daarna in hegtenis geneem vir vermoedelike ontvoering.

Dié inhegtenisneming kom nadat Sizakele Nkosi-Malobane, die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, haar kommer uitgespreek het oor die toename in kinderontvoerings in dié provinsie.

Nkosi-Malobane het in ʼn verklaring gesê minstens drie voorvalle van ontvoering en afpersing is sedert die begin van die maand by die polisie aangemeld.

Op 1 Desember is ʼn 17-jarige seun in Croydon in Kempton Park ontvoer. Die ontvoerders het R10 000 by die seun se familie geëis vir sy vrylating. Die familie het saam met polisieonderhandelaars gewerk en R5 000 aan die ontvoerders betaal. Die seun is daarna in Hillbrow in Johannesburg afgelaai. Die saak word steeds ondersoek, sê Nkosi-Malobane.

In ʼn tweede voorval is ʼn sesjarige seun op 2 Desember in Clayville naby Olifantsfontein ontvoer en het die ontvoerders in dié geval R15 000 by die familie geëis. ʼn Bedrag van R2 000 is betaal en die seun is later by ʼn kitskosrestaurant in Kaalfontein afgelaai. Ook in hierdie geval is niemand nog in hegtenis geneem nie.

Nkosi-Malobane sê op 3 Desember het nóg ʼn ontvoering in Clayville plaasgevind toe drie seuns, tussen 8 en 9 jaar oud, ontvoer is. R4 500 omkoopgeld is aan die ontvoerders betaal en die seuns is daarna by ʼn Sasol-vulstasie in Midrand afgelaai. “’n Saak is by die Olifantsfontein-polisiestasie aanhangig gemaak en die ondersoek duur voort,” sê die LUR.

In al drie gevalle is die kinders nie beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christa ·

hoef nie eens te vra wie was daardie sonebok nie. Hartloos verby

Carlien ·

My brein wil nie in neem wat ek lees nie!!! Die arme kind… Wie is sy ma en wat gaan van hom word..

$ ·

Hoe harteloos om ‘n weerlose, onbeholpe klein pasgebore babatjie in ‘n sak vol tamaties en uie te prop. Ek kan nie glo daar bestaan sulke mense wat absoluut geen hart of gewete het nie en ys by die gedagte oor wat daai arme mensie se voorland was as die vrou nie aangekeer is is. Dank die Here daai kindjie is gered.

En waar is die arme mamma – dalk doodgemaak êrens???

wielie ·

Dis nou n manier om geld te maak!! Ontvoer kinders en eis n losprys. Genade waar gaan die land heen ????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.