Vrou vas oor R3 miljoen se dwelms op lughawe

Die inbespreekte bagasie. (Foto: Verskaf)

’n Vrou is Sondag by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park in hegtenis geneem nadat dwelms ter waarde van R3,3 miljoen glo in haar bagasie gevind is.

Lt.kol. Katlego Mogale, woordvoerder van die polisie, sê die 39-jarige vrou het van Sao Paolo in Brasilië deur Johannesburg na Kaapstad gevlieg toe haar inbespreekte bagasie deur lede van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se doeane-en-aksynsbeamptes onderskep en na die soekarea by die lughawe geneem is.

Die vrou het egter voet by stuk gehou dat sy nié bagasie ingeboek het nie.

Daar is beslag gelê op drie pakkies in swart plastiek toegedraai. Die pakkies was verder toegedraai in komberse. (Foto: Verskaf)

Die bagasie is deursoek en daar is beslag gelê op drie pakkies in swart plastiek toegedraai. Die pakkies was verder toegedraai in komberse. Volgens Mogale het ʼn voorlopige ondersoek die inhoud van die pakkies as onwettige dwelms bevestig. Die dwelms weeg meer as 10 kg en het ʼn geraamde straatwaarde van R3,3 miljoen.

Die vrou is op die plek in hegtenis geneem en sal na verwagting môre in die Kempton Park-landdroshof verskyn.

“Die multi-dissiplinêre benadering tot veiligheid en sekuriteit by die OR Tambo Internasionale Lughawe gaan voort om resultate te lewer,” sê Mogale. “Hierdie interdepartementele samewerking met die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika en ander belanghebbendes onder toesig van die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur is daarop ingestel om misdadigers en kriminaliteit by die lughawe uit te wis.”

Die polisie moedig die publiek aan om enige inligting wat kan help met die stryd teen misdaad by 08600 10111 aan te meld. Oproepe kan anoniem geskied en alle inligting sal as streng vertroulik hanteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anoniem ·

Dalk sit ek die pot heel mis, maar ek ken absoluut geen van hierdie sogenaamde “bekendes” nie…..

Abe ·

Anoniem,
Watter “bekendes” praat jy van? Het jy dit in die berig gelees? Lees weer.

tokkelossie ·

Haai, lyk my dit spook erg daar op Jan Smuts lughawe? Shame man, mens klim op sonder bagasie en met die afklimplek is daar 3.3 miljoen, ek wonder hoe gebeur sulke goed, ek boor nou nes liewe heksie met my groot toon in die grond.

IK ·

Was sy op pad na Coligny dan het ek verstaan maar nou weet ek nie . . .

Michelle ·

Nee verkeerd vandag verbruik hul (muti) om (invisible) te wees al baie van die gevalle gehoor in haar geval het een dit seker gou ingesit saam met haar persoonlike goed sonder dat sy gesien het. Gelukkig kon sy nie daarmee weg kom nie goeie werk.

Anti Souf ·

Hang ALLE mense wat dwelms smokkel OF aan mense en kinders verkoop; die een keer wat jy dit gebruik, is jy ‘ge-hook’ en dan word die arme persoon verwerp deur almal. Ja, jy het ook ‘n keuse – sê nee!!!!

ne ·

Goeie werk gedoen. Kan die kameras nie bevestig dat wel sy is wat die pakkie ingeboek het nie?

A Mac ·

Wat ek wil weet, is dit regtig moontlik om bagasie in te boek op ‘n ander persoon se naam en kaartjie by ‘n lughawe sonder dat jy vlieg?

elsa ·

Ek wil geensins ‘n dwelmsmokkelaar verdedig nie, maar heelwat onskuldige mense is al op lughawens deur skelms misbruik om onwetend dwelms te vervoer. Daarom word mense ook gewaarsku om geensins hul bagasie alleen te laat of vir enigiemand ‘n “pakkie” saam te neem nie. Mens moet jou bagasie sluit en peuter “proof” maak, nie om jouself net teen diewe te beskerm nie, maar om te verhoed dat regte smokkelaars pakkies in jou bagasie wegsteek en jou as pakdonkie gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.