Vrou vas oor vuishou

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

ʼn Vrou van Heidelberg in Gauteng is in hegtenis geneem nadat sy glo ʼn polisiebeampte met ʼn vuis in die gesig geslaan het.

Kapt. Thivhulawi Tshilate, woordvoerder van die polisie, het gesê die 47-jarige vrou is in hegtenis geneem op aanklag van crimen injuria en aanranding. Volgens Tshilate het polisiebeamptes Vrydag in Ueckermanstraat gepatrolleer toe hulle ʼn vrou gewaar het wat op haar selfoon gepraat het terwyl sy bestuur het.

Volgens Tshilate het die polisiebeamptes die vrou aangespreek voor hulle verder gepatrolleer het naby die bank. Kort hierna het dieselfde vrou glo in die middel van die pad parkeer en die beamptes begin vloek. Die beamptes het glo aan die vrou gevra wat fout is waarna sy glo oor verskeie stopstrate gery het en voor die Heidelberg-polisiestasie stilgehou het.

Tshilate het gesê die beamptes het die vrou by die polisiestasie ondervra. Sy het glo erg gevloek en een van die polisiebeamptes met ʼn vuis in die gesig geslaan. Die vrou is onmiddellik in hegtenis geneem en sal binnekort in die Heidelberg-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Dave ·

Miskien is sy wild en miskien het hulle daarvoor gesoek. Wie sê hulle praat die waarheid? Die hele storie klink so effe oordrewe, onlogies en onwaarskynlik. Maar, miskien is sy een van die Van Helsdingens.

Pieter ·

Die storie is verdraai. Die vrou het niks gedoen nie. Tien teen een het hulle by haar aangele, en sy het bedreig gevoel. Sy was seker deur hulle gestamp, toe slaan sy terug. Tiepies Suid Afrikaanse polisie. Glo my, as vrou, wil jy nie deur hulle afgetrek word alleen nie. Hulle sal jou in die vangwa laai en verkrag…..soos met BAIE ander vrouens al gebeur het.

Estelle ·

Patat ek stem 100% saam met jou! Ek het al gevoel om hulle te takel so arrogant is hulle, hulle “prevoke” mense tot op ‘n punt waar jy jou “cool” verloor!

Gerrit ·

Ek glo geen woord hiervan nie.

In my geval het ek aan `n polisie beampte genoem ek gaan hom rapporteer by sy bevelvoerder en +- 15 min daarna word ek binne in `n bank in hegtenis geneem vir aanranding op 2 polisie beamptes, crimen injura en intimidasie, verset teen arrestasie….Onskuldig bevind op alle aanklagte in hof danksy sekuriteits video van bank en ten spyte van nog 2 polisie beamptes wat “ooggetuies” was van aanranding.

Ongelukkig sal hierdie vrou skuldig bevind word indien die hele voorval nie op video is nie.

Die klomp wetters kan net lieg en steel – dit kan hulle goed doen !!

catryn ·

Glo ook nie dat ‘n vrou van 47 so iets sal aanvang nie, nie onmoontlik nie, maar onwaarskynlik in ‘n openbare plek – nee wat, hierdie is weer ‘n tipiese meesterlike polisie storietjie wat ek lanklaas gehoor het. Die vrou moet maar haar weergawe ook vertel.

Daar is net te min inligting, en baie rym nie.

As dit so is, het hierdie polisie iets met haar probeer aanvang. Hoekom sou sy SELF na die POLISIESTASIE toe gery het, verskeie stopstrate oorgegaan het sonder om te stop. IETS is baie verdag hier………..

As iemand my jaag of treiter, sal ek ook alle stopstrate, robotte (eers kyk of dit veilig is) en dit oorry, reguit polisiestasie toe. Beslis nie huis toe nie. Dat sy Polisiestasie toe gegaan het, vertel mos iets is verdags aan die gang hier.

Gideon Erasmus ·

Dit is nou weer ‘n liegstorie- polisie het sekerlik die vrou iets aangedoen!! Jammer sy het net een geslaan!! Ons kort meer sulke vroue!!

SNEL ·

Stem saam met n klomp van julle, die storie klink nie lekker nie. Ek sal ook uit gear spring, daai dae van polisie vertrou en doen wat hulle sê is verby en buitendien, wys my iemand wat nie op n selfoon praat as hulle bestuur nie en ek koop hom. Hoekom een ou/ vrou uitsonder en die res kan maar op hulle fone praat, of was dit nou die dag waarop hulle net vang vir “selfoon praat in kar” dag. Nee wat, kry die wette toegepas en kam almal onder dieselfde kam of gaan vat eerder jul “tea break”. Ek wil ook eers haar kant van die storie hoor en ek glo eintlik nog voor ek dit gehoor het, sy het my ondersteuning. Ek het al te veel gesien en hoor hoe polisie str@nt aanjaag, ek glo ook een hou was te min.

REAList ·

En wat sal ons sê van die verslaggewer wat die storie in druk gesit het.
Sal sy naam ook openbaar gemaak word?

Patat ·

Kan mens werklik ‘n verslaggewer kwalik neem as hy publiseer wat hy hoor?

Sy uitdaging is nou om die vrou se kant van die storie te hoor en te publiseer. Net soos regters, is verslaggewers ook veronderstel op onpartydig te staan, sodat die waarheid aan die lig kan kom.

Hoe lyk dit Maroela, kan ons ‘n opvolgstorie verwag met die vrou se weergawe?

Sune van Heerden ·

Dagsê

Baie dankie vir almal se kommentaar op hierdie berig. Ons maak seker dat die verslaggewer verder opvolg.

Groetnis
Suné
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.