Vrou vas vir moord op Britse burger in SA

Zaheera Boomgaard. (Foto: Facebook)

ʼn Vrou het vanoggend op twee moordklagtes in die landdroshof in Vereeniging verskyn nadat sy Vrydag in Gauteng in hegtenis geneem is.

Zaheera Boomgaard word onder meer aangekla in verband met die moord op die 71-jarige Harkant Nathvani, ʼn Britse burger wat in Januarie in die land aangekom het. Hy is op 22 Februarie die laaste keer gesien toe hy ʼn bus van Parkstasie in Johannesburg na Newcastle gehaal het om ʼn vriendin te gaan ontmoet. Nathvani het moeilik geloop en krukke gebruik om oor die weg te kom.

Die polisie het in Mei op sy webwerf die publiek se hulp met Nathvani se verdwyning gevra nadat sy dogter uit die buiteland laat weet het dat sy nie haar pa in die hande kan kry nie.

Die polisie in Newcastle het die saak ondersoek en Boomgaard is as ʼn verdagte geïdentifiseer, maar Nathvani – lewend of dood – was steeds soek. Toe ʼn verkoolde liggaam wel gevind is kon dit slegs aan sy tande as dié van die vermiste Nathvani uitgeken word.

Die polisie se groot deurbraak het gekom toe nog ʼn liggaam, dié van ʼn vrou, in Augustus in Walkerville gevind is en sy aan haar vingerafdrukke uitgeken is as die vermiste Lynette Mustapha, Boomgaard se vriendin.

Die hoof van forensies by die polisie, brig. Leonie Ras, het aan Maroela Media gesê Boomgaard se inhegtenisneming Vrydag is die gevolg van ʼn gesamentlike ondersoek deur die polisiespeurders, forensiese ondersoekers en die honde-eenheid. Die ondersoek duur voort en Boomgaard bly in aanhouding.

Maroela Media het verneem dat Boomgaard ook verder ondersoek word vir onder meer die 2012-verdwyning van die 83-jarige John Robertson Naisby, wat haar op die internet ontmoet het. Boomgaard was destyds as Zaheera Wookey bekend.

Harkant Nathvani se verkoolde liggaam kon slegs aan sy tande uitgeken word.

Naisby het spoorloos verdwyn kort nadat hy in Februarie 2012 uit Kaapstad op die OR Tambo Internasionale Lughawe aangekom het om Wookey te kom besoek ná die twee lank op Facebook gekuier en ook per e-pos gekorrespondeer het om sy besoek te beplan.

Naisby se vrou, Sinie, het onraad vermoed toe groot bedrae geld binne twee dae uit Naisby se bankrekening onttrek is. Sy het hom in Kaapstad as vermis aangemeld. Hy is sedertdien nog nie weer gesien nie.

Die media het destyds berig beeldmateriaal van sekuriteitskameras op die lughawe het gewys hoe hy en Wookey uit die gebou stap terwyl sy ʼn bagasietrollie stoot. Tydens ondervraging in 2012 het sy beweer sy het Naisby by die Eastgate Mall afgelaai waar hy ʼn ander vrou sou ontmoet. Sy het ook gesê dat sy hom drie dae later weer in ʼn winkel raakgeloop het waar hy vir ʼn huurmotor gewag het wat hom na sy seun in Rustenburg sou neem.

Wookey is later in Walkerville, waar sy met varke geboer het, in hegtenis geneem weens die besit van ʼn ongelisensieerde haelgeweer en ammunisie. Die geweer en verskeie rondtes ammunisie is in ʼn kluis in haar huis gevind toe die polisie haar oor Naisby se verdwyning ondervra het. Weens bedrog met Naisby se kredietkaart is sy later skuldig bevind en tot vier jaar korrektiewe toesig gevonnis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Zandra ·

you can run but you cant hide,
slim van sy baas né!
goeie genade is daar nie meer liefde oor op die planeet?

Dup ·

Hier is genoeg materiaal vir iemand om ñ lekker boek te skryf.

Rose ·

Ai, om te dink die ou man kom al die pad van oorsee af vir stukkie plesier, toe kom hy sy moses tee. Kyk net hoe kan n bietjie heuning om die mond jou laat struikel. Sy het n spesifieke prooi in gedagte. Hier het al n paar mans in Suid-Afrika ook so oorgekom.

JohanR ·

Femme fatale….sy trek, of liewer katrol jou in met daai lippe en wenkbroue, en woeps waps daar le jy op die kombuis vloer sonder beursie! Femme fatale – an attractive and seductive woman, especially one who will ultimately cause distress to a man who becomes involved with her.

Einstein ·

Is ons seker dis ‘n “sy”? Lyk soos ‘n wit Winnie

JM ·

Dit lyk asof moord SA se nasionale sport geword het! Dit word net daagliks erger.

Nozi ·

Ek dink agter daardie wenkbroue en lippe mag daar dalk eerder ‘n man skuil. Dit lyk of sy familie van winnie mandela kan wees.

NetM ·

Mag die polisie jou ondervra oor iets en dan in jou huis rondkrap?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.