Vrou vas vir moord op kinders vra nie borgtog

Pontsho Mohlanka gedurende ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Itumeleng English/ANA)

Die vrou wat van die moord op twee jong kinders beskuldig word nadat hul verlede maand in Orange Farm in die suide van Johannesburg vermis geraak het, het haar aansoek om borgtog laat vaar.

Pontsho Mohlanka (29) het Dinsdag weer in die landdroshof in Vereeniging in Gauteng verskyn nadat sy verlede maand in hegtenis geneem is vir die moord op Simphiwe Mgcina (6) en die agtjarige Mpho Makondo, berig eNCA.

Simphiwe en Mpho se liggame is op 19 September ’n paar meter van mekaar in ’n straat aangetref enkele ure nadat hul ma (24) hulle in die vroeë oggendure as vermis aangemeld het.

Maroela Media het vroeër berig Mohlanka is enkele dae voor die moord op dié twee kinders uit aanhouding vrygelaat nadat sy in April in hegtenis geneem is vir die moord op ’n ander kind, ’n sewejarige seun wat haar buurman was, nadat dié kind se lyk in haar huis gevind is.

“Die seun is vroeër die dag op 15 April as vermis aangemeld en die soektog het polisie na die vrou se huis gelei waar die liggaam van die kind gevind is. Die vrou en haar lewensmaat is albei in hegtenis geneem hoewel die aanklagte teen die lewensmaat teruggetrek is,” het brig. Mathapelo Peters, woordvoerder van die polisie, vroeër gesê.

Volgens Peters is dié moordsaak tydelik in die hof teruggetrek hangende die uitslag van die toksikologieverslag. Die vrou is op 16 September, drie dae voor die moord op die twee kinders in Orange Farm, uit aanhouding vrygelaat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Alex ·

Nou hier is die vraag aan ons regsstelsel wat veronderstel is om neutraal en regverdig te wees en om die publiek te beskerm, waarom is die vrou vrygelaat toe sy klaar in was vir moord n paar maande terug. Dis dieselfde vir daai een wat 16 aanklagtes teen hom het en weer gegaan het en die 21 jare plaas seun vermoor

Eiervrug ·

Is dit net die fotograaf se goeie werk, of skree daai oë euwel!!!!!!!!. Hulle moet vir haar in ‘n buitelig sel inpak met ‘n sink dak sodat die son lekker op haar kan skyn….

Niklaas ·

Kon hierdie skepsel vry rondloop met moordklag teen haar, met geleentheid om verder te moor? Ek kan net my kop skud oor ons regstelsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.