Vrou vas vir moord op Pofadder-hoteleienaar

Leon Brits (Foto: IRS Forensic Investigations, Facebook)

ʼn Vrou na aan die vermoorde Leon Brits (41), eienaar van die gewilde Pofadder-hotel in die Noord-Kaap, is Maandag in hegtenis geneem.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die 30-jarige vrou is omstreeks 08:45 in haar huis in Marchand in Kakamas aangekeer. Sy staan tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en meineed.

Sy sal na verwagting Woensdag in die landdroshof op Pofadder verskyn.

Drie mans, Jacques van Vuuren (34), Amantle Bareki (24) en Enrich Williams (37), is reeds in verband met Brits se moord in hegtenis geneem.

Van Vuuren is Donderdag in die hooggeregshof in Kimberley ingevolge ʼn pleitooreenkoms gevonnis. Hy is 25 jaar tronkstraf opgelê vir die moord, waarvan vyf jaar opgeskort is. Van Vuuren is ook gevonnis tot 15 jaar tronkstraf vir roof met verswarende omstandighede en drie jaar tronkstraf vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen.

Die vonnisse word gelyklopend uitgedien en Van Vuuren sal effektief 20 jaar agter tralies sit.

Bareki en Williams is op 20 November verlede jaar op waarskuwing vrygelaat. Hulle staan ook tereg op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van ʼn vuurwapen. Hulle sal na verwagting weer op 17 Mei in die landdroshof op Pofadder verskyn.

Kock sê die polisie se ondersoek duur voort.

Maroela Media het vroeër berig Brits is op 7 Oktober verlede jaar met meswonde dood aangetref. Hy is vermoedelik verwurg en met ʼn skerp voorwerp gesteek voor sy liggaam in die onderdakswembad agtergelaat is.

Volgens Kock is verskeie waardevolle items, waaronder vuurwapens, ʼn selfoon, Krugerrande, diamante en geld glo van die perseel gesteel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

JM ·

Wat gaan aan in hierdie land? Die duiwel is los! Daar sal nog tronke gebou moet word.

Deon ·

Nie nodig vir nog tronke nie, as dit te vol raak, laat hulle net n paar los en dan is die oorvol uitgesorteer

Aai ·

Hardseer daar is geweld teen vrouens en kinders en dan doen ‘n vrou dit.Dit is nie mooi.

Vlooitjie ·

Ek stem saam. Geweld bly geweld. Daar behoort dieselfde aandag gegee te word aan mans wat onder vroulike abuse deurloop. Ek dink gender based violence teenoor mans word heeltemal onderskat.

Misky ·

Nerens sê die berig dat dit sy vrou was nie, net naby aan die slagoffer

Annelize ·

Misky, NEWS24 se opskrif lees “Wife arrested…” gaan google maar.

Cherokee ·

So sê ook die program NetNuus op my Huawei, Annelize. Weet nie wie is die bron van hul inligting, miskien selfde as News24.

Elsabe ·

Waar in jou brein sit die knoppie wat aangeskakel word wat vir jou se jy sal nie gevang word as jy die persoon doodmaak. En dan nog met soveel getuies. Eendag praat iemand altyd.

ONTPS ·

My hart breek vir die kinders, pappa is dood en nou is mamma ook nie meer daar nie

Kokkie ·

Ek merk dat verskeie kommentare beweer dat dit die man se eie vrou is wat hom vermoor het. Is dit inderdaad so? Is daar bewyse wat dit bevestig ?

Astrain ·

Mooi man, sy kon seker nie wag om te erf nadat sy ‘n nuwe kerel gekry het nie! Mense dink hulle sal nie gevang word nie – groot fout! Hier in SA is daar nog baie goeie ondersoekers!

Linx ·

Duidlik lees baie mense nie ander nuus nie, maar d ander koerante is vol van sy vrou wat gearresteer is.

Sêmaarnet ·

Ek lees nou weer die berig van 7 Oktober 2020 en staan verstom oor die kommentaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.