Vrou vas vir ontvoering in Wepener

(Foto: Rawpixel/Unsplash.com)

ʼn Vrou het Dinsdag in die hof in die Vrystaat verskyn, nadat sy glo probeer het om ʼn 12-jarige seun van Lesotho die vorige week te ontvoer.

Maria Ramona (39) sal weer op 20 Februarie in die hof in Wepener verskyn vir haar formele borgtogaansoek.

Die seun was glo op pad van sy skool in Mafeteng, Lesotho, na sy tannie in Bloemfontein, toe hy Ramona by ʼn taxistaanplek ontmoet het. Sy het hom glo oortuig dat sy ook op pad is na Bloemfontein, vir sy taxigeld betaal en hom gehelp om die grens onwettig oor te steek,” sê ao Lynda Steyn, woordvoerder van die Valke.

ʼn Motoris van Lesotho het die seun in Wepener opgemerk, aangesien hy steeds sy skooluniform aangehad het. “Motoriste het die verdagte genader en sy kon nie verduidelik waarom sy die seun by haar gehad het nie. Ramona is gevolglik in hegtenis geneem en die seun na ʼn plek van veiligheid geneem,” sê Steyn.

Ramona se man het boonop Vrydag die ondersoekbeampte in die saak genader en omkoopgeld aangebied, sou hy die saak laat vaar. Dié is toe ook Maandag in hegtenis geneem vir korrupsie.

In ʼn ander geval het die streekhof in Middelburg Maandag ʼn man tronk toe gestuur vir poging tot ontvoering. Sthembiso Mchumu (36) is skuldig bevind aan poging tot ontvoering en vyf jaar tronkstraf opgelê. Hy het ʼn bykomende vyf jaar gekry wat opgeskort is vir vier jaar, mits hy nie in dié tyd skuldig bevind word aan ontvoering of poging tot ontvoering nie.

Dit volg nadat die beskuldigde probeer het om ʼn kind op 27 Augustus 2018 in Middelburg te ontvoer. “Hy het destyds die kind gegryp en hom hardhandig in sy voertuig probeer bondel. Werkers wat besig was om stene in die omgewing te lê, het hom egter voorgekeer,” sê kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke.

Die polisie kon later vasstel dat die voertuig wat hy gebruik het van Avis in Johannesburg gehuur is. Die polisie het hom op 31 Desember in Ladysmith in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

ES ·

Dit is deesdae te onveilig om jou kinders te laat skool toe loop… kinders word daagliks ontvoer – meisies en seuns.

Misky ·

Dit klink amper vir my of die Ramona vrou eerder die kind wou help as om hom te ontvoer. Sy wou dalk net die 12 jarige kind help en dis darem baie jonk om so ver alleen te reis en boonop n grens oorsteek. Net my opinie en dalk meer agter die saak.

Kietsie ·

Verlang ek na die dae wat ons met ons fietse die hele dorp volg gery het en sodra die son onder gaan huis toe gegaan het. Heerlik vry. Nou kan jy nie jou kind uit die huis uit laat gaan sonder om te “worry” of jou kind huis toe gaan kom nie. Kinders moet vandag geleer word om niemand te vertrou nie – dis so hartseer want hulle moet eendag iemand vertrou om ‘n lewens maat te kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.