Vrou vas vir stappie in polisie-uniform

Foto: SAPD

Foto: SAPD

Die polisie het Dinsdag ʼn 28-jarige vrou in Durban in hegtenis geneem toe sy doodluiters in ʼn straat afgestap het met ʼn polisie-uniform aan.

Maj. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê polisiebeamptes van die Durban-Sentrale grondeenheid was omstreeks 14:00 besig op patrollie in Victoriastraat toe hulle die vrou in die straat sien stap, geklee in ʼn volledige polisie-uniform.

“Die beamptes het die vrou gevra of sy ʼn polisiebeampte is,” het Zwane gesê. “Sy het aanvanklik nie die vraag beantwoord nie en kon ook nie ʼn aanstellingsertifikaat toon nie. Later het sy gesê sy is ʼn vrywilliger en die uniform het aan haar pa, wat ʼn polisiebeampte is, behoort.”

Die beamptes het haar in hegtenis geneem en na die Durban-Sentraal-polisiestasie geneem waar sy aangekla is daarvan dat sy haarself as ‘n polisiebeampte voorgedoen het. Sy sal binnekort in die hof verskyn.

Lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir die inhegtenisneming. “Mense wat hulself as wetstoepassingsbeamptes voordoen skep wantroue tussen die polisie en publiek en sal daarom met die volle mag van die gereg te doen kry. Ons sal ondersoek instel om te bepaal of die verdagte by enige ander misdade in die provinsie betrokke was,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

GES ·

Die mense besef nie die erns van die saak nie. Hulle verkeer onder die indruk dat ons in ‘n gekkeparadys leef. Die enigste manier is om haar swaar te straf en ‘n voorbeeld van haar te maak. Die boodskap moet hard en duidelik wees dat hierdie gedrag ‘n nee-nee is.

Dee ·

Hoekom? Waarom so erg aangaan? Miskien het sy net vir ‘n onskuldige stappie na ‘n maskerbal gegaan maar dan is daar polisiebeamptes wat met aanstellingssertifikate in hul sakke moor en roof. Ek sê nie wat sy gedoen het is reg nie maar wat ek wel sê is drink ‘n kalmeerpil.

GES ·

As jy so wil redeneer kan jy maar ‘n vuurwapen op iemand rig solank jy net nie skiet nie.

Theresa B ·

Hoe arrogant kan die spul nou wees?! Goeie hemel tog! Dan dan wil die SAP weet hoekom neem ons hulle nie ernstig op nie. En as die mense nie meer reageer as iemand in uniform hulle voorkeer nie – wie se skuld is dit dan………??!!

Peet Schabort ·

Dalk het sy nie die postuur van ‘n polisievrou gehad . . .

Sanet ·

Dit is reg dat hulle haar sommer daar en dan gearresteer het. Ek dink aan die kaapers wat in polisiedrag geklee is en mense so uitvang omdat hulle aanneem dit is polisie beamptes.. Sy kan net sowel een van hulle wees.

Johan ·

Ja dit herhinner my aan die vroulike “generaal” (jammer om die rang so te beledig) wat in volle uniform met pienk pantoffels in ‘n winkelsentrum (dink Bloemfontein) ingestap het. In ons tyd sou dit ‘n gewisse krygraad tot gevolg gehad het en ek dink so ook in enige beskaafde land. Afrika kwalifiseer uiteraard nie.

GES ·

Net soos jy daar sê Johan. Hulle maak ‘n bespotting van gesag en disipline. Dit verklaar hoekom niemand die wet meer ernstig opneem en respek vir gesag het nie. Ons is nie ver van ‘n piesangrepubliek af nie. Wat my die meeste bekommer is dat hierdie tiepe gedrag aan almal begin afsmeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.