Vrou vas wat adjunkpresident valslik van moord beskuldig

Adj. pres. David Mabuza (Foto: Elmond Jiyane, GCIS)

Die vrou wat ʼn herrie veroorsaak het deur te beweer dat adj.pres. David Mabuza by ʼn sameswering betrokke was om ʼn Mpumalanga-sakeman te laat vermoor, sal na verwagting Vrydag in die Mbombela-landdroshof verskyn.

Dít volg nadat die 31-jarige vrou, wat haar as ʼn familielid van Mabuza voorgedoen het, Woensdag op aanklagte van bedrog, vervalsing en dwarsboming van die gereg deur die Valke in hegtenis geneem is.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het gesê die Valke het verlede jaar begin ondersoek instel nadat dié verdagte in ʼn beëdigde verklaring beweer het dat Mabuza glo op 5 November 2018 saamgesweer het om ʼn sakeman wat betrokke is by ekotoerisme te laat vermoor.

Die verdagte het beweer dat die sameswering in Sandton gebeur het wat gelei het tot die opening van ʼn dossier by die Sandton-polisiestasie.

Die ondersoekspan moes die verdagte ondervra aangesien die oorspronklike verklaring nie deur die polisie afgeneem is nie. Dit was egter moeilik om die verdagte op te spoor, het Mulaudzi gesê.

Dit het intussen bekend geword dat die adjunkpresident nié in die land was ten tyde van die beweerde oortreding nie. Dit het vinnig duidelik geword dat die verklaring moontlik nie waar is nie en dat die verdagte moontlik gejok het oor die voorval asook haar beweerde verbintenis met die adjunkpresident.

Mulaudzi verduidelik die ondersoekers kon uiteindelik die verdagte opspoor waarna hulle haar dopgehou het terwyl hulle op soek was na die regte persoon wie se besonderhede die verdagte in die vervalste verklaring genoem het.

Volgens Mulaudzi is daar ook gedurende die ondersoek vasgestel dat groot bedrae geld oorbetaal is aan die verdagte nadat sy die verklaring afgelê het.

Die verdagte het reeds ʼn bekentenis voor ʼn landdros gedoen. Die motief vir die valse klag is steeds onbekend, het Mulaudzi gesê.

Die verdagte bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ne ·

Nou hoekom stel hulle nie vas wie die geld in haar bankrekening inbetaal het nie. Ek ruik ‘n rot!

Onnodig ·

Ongelukkig is alles in SA so deurdrenk van korrupsie dat n mens nie meer weet wat om te glo en wie om te vertrou nie. Enigiets is moontlik

Sanet ·

HOOP sy word ordentlik gestraf, om sommer ñ voorbeeld te wees,vir ander vroue wat arme onskuldige mans vals beskuldig!!!!!!!!!!!!!!!!!

willem Botha ·

Ek kan nie glo die valke ondersoek die geval wat vir my baie onbenullige klink maar ondersoek en arresteer nie die klomp wat die staats koffers so geplunder het nie ,is almal dan nie gelyk onder die wet nie of is dit net van toepassing in n eerste wêreld land.

Willie ·

Was dit regig uit die land? Kan mens die Valke vertou? Skuld erkenning met n sal vol geld strek ver? Se maan net… Ek vertrou geen kader nie… een life soos die ander..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.