Vrou vasbeslote om oom ná 27 jaar op te spoor

Boetie Willemse (Foto: Verskaf)

ʼn Jong vrou van Upington in die Noord-Kaap het die afgelope jaar alles in die stryd gewerp om haar vermiste oom op te spoor – dit ondanks die feit dat hy alreeds sowat 27 jaar vermis is.

“Hy net soos ʼn groot speld verdwyn. Dít is wat ons nie verstaan nie. Ek wil net hê my ouma moet closure kry,” het Lana Matthys (34) die rede agter haar soektog aan Maroela Media verduidelik.

Volgens Matthys is dit haar 92-jarige ouma se grootste wens om haar seun weer te sien. Matthys het dit daarom haar doelwit gemaak om haar oom op te spoor voordat haar ouma sterf.

Adam Cornelius Jacobus Willemse, oftewel Boetie Willemse, het in 1992 verdwyn nadat hy sy destydse vrou en kind in Upington agtergelaat het om glo in die Kaap te gaan werk soek. Hy het sedertdien nooit weer met sy familie kontak gemaak nie.

Matthys kon deur middel van sy ID-nommer by binnelandse sake bevestig dat die familie se verlore seun, broer en oom nooit as dood aangemeld is nie. “Hy het in Januarie vanjaar 61 jaar oud geword,” vertel Matthys.

Waar begin ʼn mens egter soek na ʼn persoon wat vir byna drie dekades spoorloos verdwyn het? “Al wat ek tot my beskikking gehad het, was my foon. Ek het net daarop begin soek. Ek het by die polisie en skuilings begin. Ek het nie geweet of hy dakloos gelaat is en op straat woon nie,” sê sy.

“Ek doen dit vir my ouma maar ook vir hom. Miskien soek hy na ons ook.”

Volgens Matthys is dit moeilik om te sê wie hom laaste gesien het aangesien sy ʼn jong kind was toe hy weg is. Hy is oor die jare vervreem van sy vrou en kind. Dié kind is ook onlangs oorlede.

Matthys het sonder enige hulp gedurende haar ondersoek vasgestel dat Willemse ten tyde van sy verdwyning uit Upington nié Kaap toe is nie, maar wel Kimberley toe. Daar het hy glo ʼn vriendin ontmoet by wie hy drie kinders gehad het. Dié vrou en kinders kon egter nie veel van hulp wees nie aangesien hulle ook van hom vervreem is.

Matthys kon Willemse se spoor gevolglik tot in Springbok volg waar hy glo in 1997 ʼn sekuriteitswag van beroep was. Verdere inligting het hom eindelik in Tamboerskloof in die Kaap geplaas.

Dit het later bekend geword hy het ook vir ʼn tyd ʼn stalletjie in Bellville bedryf. “Volgens ’n kennis het hy gereeld beweeg tussen Bellville, Atlantis, Goodwood en Elsiesrivier.”

Ná maande se soek, het Matthys besluit om die padongelukkefonds te kontak. Sy kon vasstel dat Willemse onlangs sy been in ʼn motorongeluk in die Kaap verloor het.

Die laaste adres wat Matthys vir Willemse het, is in die Kaap. “Ons vermoed hy is nogsteeds daar. Hy moet daar wees. Ek is elke keer op sy spoor maar ek kom net nie by hom uit nie,” sê sy.

Wat dryf haar om so vasbeslote na haar oom te bly soek? “Daar is iets binne ʼn mens – ʼn hunkering en verlange na daardie persoon. Dit is ook asof ek adrenalien kry wanneer ek na hom soek. Ek kan nie stop nie, want miskien is ek net ʼn stappie weg van waar ek hom gaan kry.”

Matthys vertel dat sy egter nié finansieel daartoe in staat is om Kaap toe te reis en self Willemse se spoor agterna te sit nie. Sy is dus afhanklik van enige wenke wat haar na hom toe kan lei. Sy vertel dat sy egter nie veel hulp ontvang nie en tot dusver alles self moes doen.

Tog gee sy nie moed op nie. “Ons sal ʼn plan maak om hom hier by ons te kry as ek hom net kan opspoor.”

Indien dit gebeur, sal Willemse met ope arms verwelkom word? “Dít is ʼn moeilike vraag. Ek weet wel dat daar baie trane gaan wees. Trane van blydskap,” antwoord Matthys.

Volgens inligting tot Matthys se beskikking, is Boetie Willemse ʼn 61-jarige bruin man en sowat 1,6 meter lank. Hy het ʼn merk bokant sy regteroog. Een van sy voortande is effens uitgebreek en hy het een van sy bene verloor.

Enige inligting rakende Willemse kan by Matthys by 073 326 9259 aangemeld word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

koos ·

Ek dink hy wil dalk nie gekry word nie? Maak kinders sover hy gaan en pak dan weer sy tasse…

LH ·

Lana jy doen ‘n GROOT ding . . . . ek kan net dink hoe bly sy ou moeder sal wees wanneer hy voor haar staan! baie sterkte met jou soektog, ek bid jou voorspoed toe!

Katerina ·

Hoe hartseer vir sy arme bejaarde ma..Klink ongelukkig nie of die man veel behoefte het aan familie bande en standvastigheid nie. Klink of baie mense al hartseer en verworpe agtergelaat is deur hom. Ek voel jammer vir hulle. Maar party mense is maar gelukkiger op hulle eie, klink of hy so een is.

jakes ·

Ek hoop die vrou vind haar oom maar om eerlik te wees, dit sal n wonderwerk kos. As sy hom wel vind moet sy onverwyld Bheki Cele se plek as kommesaris oorneem want sy sal bewys dat sy oor onsettende deursettingsvermoee beskik wat die polisie nie het nie. Sterkte.

Lana Matthys ·

Ek hoop God seen my met daardie deursettings vermoe,om nie moed te verloor nie en dat ons hom sal kry.Ek challenge Bheki Chele nou…hahaha dankie

Piet Snot ·

Baie mooi storie.
Hou duimvas vir jou, Lana.
Deursettingsvermoë!

Ander Annie ·

Lana, ek hoop jy kry jou Oom. Dit is regtig wonderlik wat jy doen. Baie sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.