Vrou ‘vasgevang in eie liggaam’ ná inenting

Jean van Vuuren by haar kleindogter, Gabriëlla Panayotakis. (Foto: Verskaf)

Die 65-jarige Jean van Vuuren is nou al byna vyf maande in die intensiewesorgeenheid van ʼn private hospitaal in Pretoria, nadat ʼn ernstige newe-effek van die Covid-19-inenting haar vermoedelik verlam gelaat het. Guillain-Barré-sindroom is kort nadat sy die Johnson & Johnson-entstof ontvang het, by haar gediagnoseer.

Hoewel sy nou haar oë kan knip, is Van Vuuren steeds van haar skouers af ondertoe verlam. Sy kan ook glad nie praat nie en is van ʼn ventilator afhanklik.

Haar dogter, René, het destyds aan Maroela Media gesê haar ma se toestand is ʼn ekstreme geval met betrekking tot ernstige newe-effekte wat weens die entstof kan ontstaan.

Dit is ook deur dr. Heidi Prinsloo, die internis wat haar behandel, as ʼn “hoogs waarskynlike oorsaak” bevestig.

Melissa Panayotakis, Van Vuuren se ander dogter, sê die senuweeskade wat haar ma in die proses opgedoen het, is veel erger as wat die gesin aanvanklik vermoed het.

“Haar neuroloog het ons op 25 Oktober ingelig dat sy nie net skade aan haar miëlien (beskermende skede) opgedoen het nie, maar ook aan die akson van die senuweeselle self.

ʼn Ernstige newe-effek van die Covid-19-inenting het Jean van Vuuren vermoedelik verlam gelaat. (Foto: Verskaf)

“Die skade is baie erger as wat ons aan die begin gedink het. Die neuroloog het gesê sy weet nie of my ma ooit 100% sal herstel nie. Dit was vir ons ʼn groot skok. Ons is nou op ʼn punt waar ons vir volkome herstel bid, maar ons ook op die ergste voorberei.”

Nog geen terugvoer van Saphra

Hoewel die gesin die voorval by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) aangemeld het, het hulle nog geen terugvoer ontvang nie.

“Ons het tot vandag toe nog niks van Sahpra gehoor nie. Hulle sê mens moet “entstofbeserings” aanmeld, maar moenie dink jy gaan enige ondersteuning van iemand kry nie. Sy is maar net ʼn syfer vir hul navorsing. Dit is baie hartseer,” sê Panayotakis.

Maroela Media het die afgelope week berig die African Christian Democratic Party sukkel ook al reeds sedert verlede jaar om inligting te kry oor ʼn regeringsfonds wat veronderstel is om mense wat ernstige newe-effekte van die inenting kry, by te staan.

“Gevangene in haar eie liggaam”

Van Vuuren se gesin kry saam met haar swaar en worstel tans met baie onsekerheid.

“Dis ʼn wrede siekte vir almal wat daarby betrokke is. As haar geliefdes het ons soveel vrae, en ons kan nie dink hoeveel vrae sy moet hê nie. Sy is eintlik ʼn gevangene in haar eie liggaam.

Jean van Vuuren word ná vyf maande steeds in die intensiewesorgeenheid van ʼn hospitaal behandel. (Foto: Verskaf)

“Die dokters is nou nog nie bereid om ʼn langtermyn-prognose te maak nie. Hulle sê net haar vordering is baie stadig. Vir nou vier ons egter fees met elke klein mylpaal wat sy bereik.”

Die gesin sê voorts hulle is uiters geseënd met die sorg wat Van Vuuren ontvang, asook die ondersteuning wat hulle van mense kry.

“Ons is werklik bevoorreg met die dokters wat na haar omsien. Dr. Prinsloo bel ons elke dag om ons te laat weet hoe dit met haar gaan.

“Die hospitaal se diens en personeel is wonderlik. Daar is so baie mense wat vir haar bid. Ons kan nooit genoeg dankie sê nie. Sy het Kersfees en haar verjaardag alleen in die hospitaal deurgebring aangesien besoektye weens Covid-19-regulasies opgeskort was. Deur alles bly ons dankbaar dat sy steeds lewe en vir ons gespaar is.”

Panayotakis sê hul grootste les in 2021 was om elke dag “te vat soos dit kom”.

Jean van Vuuren Foundation

Die Jean van Vuuren Foundation wat die gesin kort ná haar diagnose gestig het, is nou as ʼn openbare welwillendheidsorganisasie geregistreer.

“Ons doel hiermee is om geld in te samel sodat my ma deurlopend die beste mediese hulp kan ontvang. Belastingsertifikate word ook aan geldskenkers uitgereik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Darem een geval wat in die oopte kom, die res is nog verbloem en daar word geen statistiek oor die gevalle bekend gemaak nie. Dan laat mense hul blindelings inent. Kaas dit en geniet dit.

Misky ·

En oor die res swyg hulle en die skape wat volg……. Dankie MM dat julle hierdie berigte plaas en lesers inlig

Waarnemer ·

En intussen loop die arme vrou se mediese kostes hemel hoog op…haar familie moet die president sowel as sy lakei ,Madikkizela Mandela,te dagvaar om van meet af hierdie vrou se medies te betaal.Dit is n skande dat daar nou gesoebat en gesmeek word vir geldelike hulp en bystand.Ramaphosa moet uithaal en wys.

Vlooitjie ·

Waar is die kommentaar nou van almal wat glo die newe effekte is nie so erg compaired tot die voordele van die entstof? Vir die vrou en almal wat vir haar omgee is dit hel. Hoekom kry dit nie dieselfde aandag wat dit verdien nie. Niemand van ons weet of jy of jou geliefde of kind so iets gaan oorkom nie en tog dryf die vrees mense om voort te gaan. As jy dink jy het genoeg navorsing gedoen oor die entstof en dat jy dink dis veilig, word wakker. JY IS DIE NAVORSING!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.