Vrou veld ingesleep tydens kleinhoewe-aanval

Argieffoto: Nico Strydom

Argieffoto: Nico Strydom

ʼn Vrou van Thohoyandou in Limpopo is helder oordag in haar huis op ʼn kleinhoewe deur rowers oorval, aangerand en in die veld in gesleep.

Wessel Basson, hoof van aktivisme by Front Nasionaal, het aan Maroela Media gesê Trish Ehlers (29) is Woensdag omstreeks 13:00 deur rowers in haar huis oorval. Haar man, Chris, was nie ten tyde van die voorval by die huis nie.

“Die aanvallers het Trish met ʼn mes aangeval en met ʼn knopkierie oor die kop geslaan. Sy het twee steekwonde in haar hande opgedoen soos sy probeer keer het,” het Basson gesê. Die rowers het haar daarna glo vasgemaak en in die veld langs die huis in gesleep. Hulle het daarna met ʼn skootrekenaar, ʼn selfoon, beursie en twee gewere op die vlug geslaan.

Kol. Ronel Otto, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media bevestig dat Ehlers oorval is, maar kon nie bevestig dat sy aangerand is nie. “Ek kan bevestig dat items uit die huis gesteel is en dat ʼn saak van huisbraak ondersoek word,” het sy gesê.

Volgens Basson sterk Ehlers tans by die huis aan, maar sy is erg getraumatiseer. Die Ehlers-egpaar boer met brahmaan-stoetbeeste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Winston ·

Huisbraak? Ek word al hoe dommer. Dis roof en poging tot moord. Alternatiewelik Aanranding met opset om ernstig te beseer?

Sussa ·

Dit wys net hoe ‘n ernstige misdaad as iets klein afgemaak word. Geen wonder so baie arrestasies word gemaak, maar die vonnisse is so min nie. As sulke sake reg hanteer word deur polisie lede wat opgelei is vir alle soorte situasies, sal die misdade afneem en die skuldiges die boodskap hard en duidelik kry, of hoe?

Verstaaniemooinie ·

Ok… nou verstaan ek!!!!!! Jy moet eers half dood gesteek, geslaan, verkrag word dan sal daar ‘n saak wees vir poging tot moord ens…. genade hoe kon ek die heeltyd die storie so mis verstaan…. ‘n saak van huisroof word ondersoek, maar sy is oor die kop geslaan, en het steek wonde aan haar hande omdat sy haarself verdedig het….. maar huisroof word ondersoek??????? REGTIG ???????????? BELAGLIK!!!!!!

G ·

Nee ek verstaan JOU nie mooi nie. Flip mense, fokus! Jy kan nie nou sommer self wil besluit wat poging tot moord is nie! Dis duidelik nie poging tot moord nie, lees die blerrie artikel en hou op emosioneel reageer. Môre ry jy oor ‘n voetoorgang sonder om mense eers oor te laat stap (want dis die wet, voetgangers het voorkeur), moet ek jou dan van poging tot moord aankla. Julle mense darem…

Piet ·

G, miskien sal JY die artikel beter verstaan as jy Die Wet Op Gevaarlike Wapens 2013, Wet nr 15 van 2013 weer gaan lees….”het Trish met n mes aangeval”….die gedrag en bedoelinge van die persoon met die mes is seker baie duidelik in die geval.

Nadia Verster ·

G kan seker nie ernstig wees nie??
Moet ‘n trol wees wat reaksie soek.
Tot so iets met hom/haar gebeur…

SNEL ·

Vrou veld ingesleep, en nie verkrag….wonder maar. Ek weet van n aanval op n plaas en die vrou was verkrag en dit was uit die media gehou. Neem geen een kwalik as hulle dit gaan stilhou nie. Dit bly vreeslik, maak nie saak wat nie, n weerlose vrou, weereens verniel en rond geruk en pluk. Bly sy lewe, maar hoekom moet ons dankbaar wees dat iemand lewe, dit moes nooit eers met haar gebeur het nie. Elke mens het die reg om te kom en gaan en te lewe met vryheid. Hier is niks meer vryheid nie. Sal dinge ooit weer regkom in ons pragtige land, of is ons op n afdraendepad sonder remme.

Victor ·

“kon nie bevestig dat sy aangerand is nie”
Nou hoe verduidelik jy die merke op haar hande..??
Ek is nou nie n prokureur nie, maar enige persoon wat met n wapen op my afgestorm kom (met die bedoelings om te ernstig beseer) en wat wonde op my hande los en wat my vasgemaak in die veld in sleep, behoort van aanranding aangekla te word…

Maar dis mos hoe dit gan in dié land: rowers kan by jou huis inbreek en jou half doodmaak en jou waardevolle besittings steel en hulle sal heel waarskynlik daarmee wegkom ook… Hoe lank gan dit nog aanhou??

Se Maar Net ·

Maggies, daar is ‘n helse verskil om iemand perongeluk raak te ry, en om mense te gaan roof , moor en verkrag.
Die skuim het een doel en dit is om te moor.

Sarie ·

Ons is in n wettelose land. Sekere wette geld net vir sekere mense.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.