Vrou verdrink in Houtbaai-hawe

Vissersbote in Houtbaai-hawe (Foto: Maroela Media)

ʼn Vrou het Dinsdagaand verdrink nadat sy in die water by die hawe in Houtbaai in die Wes-Kaap beland het.

Lyall Pringle, bevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Houtbaai, het in ʼn verklaring gesê NSRI-bemanningslede is omstreeks 22:30 na die hawe ontbied.

ʼn Plaaslike buurtwagbeampte het op die vrou afgekom waar sy in die water gedryf het. ʼn Ent weg het ʼn man, vermoedelik haar vriend, op die kaai gelê. Hy het glo probeer om die vrou te red, maar kon nie daarin slaag nie en het hipotermie opgedoen.

Beamptes van die veiligheidsmaatskappy ADT het die buurtwaglid gehelp om die vrou uit die water te trek. Hulle het dadelik kardiopulmonêre resussitasie toegepas in ʼn poging om haar by te bring. Die provinsiale nooddienste, Kaapstad brand- en reddingsdienste en SAPD is ook na die toneel ontbied.

Volgens Pringle het verskeie paramedici by die reddingspoging aangesluit en probeer om die vrou by te bring, maar sy is op die toneel dood verklaar. Die man is by die NSRI-seereddingstasie vir hipotermie behandel voordat hy na ʼn hospitaal geneem is. Volgens Pringle herstel hy goed ná die ontbering.

“Dit is nie duidelik wat veroorsaak het dat die vrou in die water beland het nie. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen,” het Pringle gesê. Hy het die buurtwaglid en ADT-veiligheidsbeamptes geloof vir hul pogings om die vrou te red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.