ʼn Vrou is Sondag tydens twee verskillende voorvalle deur drie mans verkrag, het die polisie in Gauteng gesê.
“ʼn Man het die 24-jarige vrou glo by ʼn kroeg in Moletsane in Soweto ontmoet voordat hy haar na ʼn veld geneem en verkrag het,” het ao Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, gesê. Hy het haar later by ʼn vulstasie afgelaai en weggery.
“Twee ander mans het glo aangebied om haar te help en met haar rondgery totdat hulle haar uiteindelik in Klerksdorp in Noordwes glo ook verkrag het.”
Hulle het haar weer teruggeneem na Soweto en haar by Maponya-winkelsentrum afgelaai en toe gevlug.
Sy het die voorvalle Maandag by die polisie aangemeld. Niemand is nog in verband met die beweerde verkragtings in hegtenis geneem nie.