Vrou verloor alles in Limpopo-brande

Rentia Nell, haar dogter en kleinkind het net die klere aan hul lywe oorgehad nadat verwoestende brande na hul kleinhoewe in Waterval buite Polokwane versprei het. (Foto: Verskaf)

Rentia Nell, ʼn inwoner van Waterval buite Polokwane, het Donderdagmiddag probeer keer dat ʼn brand van haar buurman se kleinhoewe na haar eiendom versprei, toe sy omdraai en sien dat die grasdak van haar eie huis in vlamme gehul is.

Nell (64) sê die krag was af en die waterdruk gevolglik laag, met weinig hoop om die vlamme – wat op die boonste verdieping van haar huis ontstaan het –  te blus.

“Daar is niks oor nie. Niks nie,” het sy Maandag aan Maroela Media gesê.

Nell se 32-jarige dogter en 12-jarige kleinkind woon saam met haar op die kleinhoewe, en hulle het Donderdag net die klere aan hul lywe oorgehad. Nell sê hulle kon darem die voertuie red, maar dat alles wat in die huis was, tot niet is.

Alles is in die brand vernietig. (Foto: Verskaf)

“My kleindogter het laat Donderdagaand nog haar skoolklere aangehad – dis al wat sy gehad het.

“Alles wat ek oor die afgelope 49 jaar opgebou het, is weg.”

Nell is een van verskeie inwoners, onder wie wild- en veeboere, wat ernstige skade gely het toe brande verlede Sondag (14 Augustus) in die omgewing uitgebreek en deur die week sporadies gewoed het. Maroela Media het vroeër berig dat meer as 50 000 ha in die omgewing afgebrand het en dat sowat 4 000 stuks vee en wild geraak is. Weens warm weerstoestande en sterk wind was dit haas onmoontlik om die brande te keer.

Agri Letaba en Agri Limpopo het intussen ʼn beroep op lede van die gemeenskap gedoen om voer, lusern en geld aan geraakte boere te skenk.

Die huis voor die brand. (Foto: Verskaf)

Die brande het aanvanklik van ’n suidelike rigting gekom en deur die week plek-plek opgevlam. Donderdag het dit weer vanuit ʼn noordelike rigting gebrand en Nell se huis in die proses vernietig.

Nell, wat al 18 jaar op die kleinhoewe woon, sê dis die ergste brande wat sy nóg in dié omgewing ervaar het.

Die ma, dogter en kleindogter bly intussen in ʼn eenslaapkamerwoonstel wat ook op die perseel geleë is, en gelukkig gedeeltelik gemeubileerd was.

Hoewel sy nie woorde het om hul verlies mee te beskryf nie, sê Nell dat die Polokwane-gemeenskap absoluut hul harte en hande vir hulle oopgemaak het.

“Die gemeenskap van Pietersburg (Polokwane) is wonderlik. Hulle het vir ons kos, klere, vleis en komberse geskenk. Ons het selfs hondekos en hondebakke gekry.”

“Ons het nou alles wat ons nodig het.”

Nell hoop dat hulle binnekort weer hul huis sal kan herbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Swerwer ·

Die is so jammer, die klein kosbare sentimentele dingetjies kan nooit weer vervang word nie en is die grootste verlies wat ‘n mens kan lei, ander aardse artikels kan met moeite wer vervang word maar die waarde is nooit dieselfde as wat jy verloor het.

domheks ·

Sterkte! Dit moet verskriklik wees om te sien hoe jou handewerk/besittings uitbrand.

hantie ·

Hierdie was nou so hartseer om te lees, kan my nie eers begin indink hoe daardie mense moet voel nie. My hart gaan uit na hulle.

Hennie ·

En dis hoekom ek nooit gerus voel in n grasdak woning nie! Mooi, maar gevaarlik

Di ·

Hierdie brande moet dringend ondersoek word! Daar is HOPELOOS te VEEL brande wat skielik uitbreek. Daar is SOVEEL boere daar wat nou GEEN weiding oor het vir hulle vee nie. SEKERES soek mense van die grond af, daarom hierdie brande stig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.