Vrou vermoor, man dood gevind

Argieffoto: Kent Williamson

Die liggaam van ʼn man wat in sy huis opgehang is, is Sondag in ʼn nedersetting naby Thohoyandou in Limpopo aangetref. Sy vrou se liggaam is later in hul motor gevind.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het Sondag in die Mandala-nedersetting plaasgevind.

“Die 35-jarige man is deur sy gesin gevind.” Die polisie is na die toneel ontbied en tydens die aanvanklike ondersoek is daar bloedvlekke op die oorledene se klere ontdek. “Sy vrou en hul motor was egter vermis,” het Ngoepe gesê.

Die vrou se liggaam is later in hul motor wat in bosse naby die Thathe-nedersetting geparkeer was, aangetref. Sy het verskeie steekwonde reg oor haar liggaam gehad.

“Die mes, glo die moordwapen, is langs die oorledene se liggaam aangetref.”

Ngoepe het gesê die motief vir die moord is nog nie duidelik nie, maar dat dit moontlik met huishoudelike geweld verband hou.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiekommissaris, het sy hartseer en afgryse uitgespreek oor die voortslepende gevalle van moord wat met huishoudelike geweld gepaardgaan.

Dit kom nadat drie seuns, tussen twee en sewe jaar oud, Saterdag wreed vermoor is terwyl hulle geslaap het.

“ʼn 43-jarige man het na bewering sy drie kinders met ʼn skerp voorwerp doodgekap tydens ʼn huishoudelike geskil,” het Ngoepe gesê.

“Die man het na bewering sy vrou daarvan beskuldig dat sy ontrou was en dat hy nie die biologiese pa van die kinders is nie. Hy het eers sy vrou met die skerp voorwerp probeer aanval, maar sy kon daarin slaag om na buite te hardloop om hulp te ontbied. Die man is toe na die kinders se beddens waar hy hulle glo vermoor het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.