Vrou ‘verpletter’ ná honde huiswerker aanval  

Die drie pitbulls wat Dupuo Kokolosi verlede week verskeur het. Die honde is deur ’n buurman op die toneel doodgeskiet. (Foto: Verskaf)

Chandré van der Linde van Potchefstroom is “heeltemal verpletter” nadat haar drie Amerikaanse veghonde (pitbull terriërs) haar huiswerker verlede week aangeval het.

Dupuo Kokolosi (47) se bolip en groot dele van haar neus en ore is tydens die voorval by haar werkgewer se huis afgeskeur en haar linkeroog is ernstig beseer. Daar is ook stukke vleis uit haar been geruk. ʼn Buurman wat Kokolosi te hulp gesnel het, het die honde op die toneel doodgeskiet.

“Met inagneming van verwagte siviele of kriminele regsprosesse, en as gevolg van verskeie dreigemente van geweld teen Van der Linde, het sy ons gevra om duidelikheid te verskaf aangaande die tragiese gebeure van 25 Januarie,” het Barnard Prokureurs, wat Van der Linde verteenwoordig, in ʼn verklaring gesê.

Van der Linde is volgens die verklaring baie bekommerd oor Kokolosi se welstand en dié van haar kinders. “Van der Linde het Kokolosi al verskeie kere in die hospitaal besoek, by haar gesit, haar hand vasgehou en haar besorgdheid en omgee gedeel.”

Sy het glo ook al verskeie pogings aangewend om Kokolosi se ma, by wie die kinders woon, te kontak om te hoor of sy intussen finansiële bystand kan bied. Van der Linde kon volgens die verklaring egter nog nie daarin geslaag het om kontak te maak nie, maar probeer alles moontlik om Kokolosi se afhanklikes deurlopend te ondersteun.

“Daar is niks wat enige van die partye kon voorberei op die rampspoedige gebeure van verlede week nie, maar Van der Linde is daartoe verbind om alles in haar vermoë te doen om Kokolosi se familie by te staan en aanvaar die feit dat daar regsgevolge kan wees. Ons het Van der Linde ook aangemoedig om so gou moontlik traumaberading te soek sodat sy die beproewing sal kan verwerk,” lui die verklaring.

Dupuo Kokolosi (47) is erg vermink nadat sy deur drie pitbulls verskeur is. (Foto: Verskaf)

Praticia Modise (31), Kokolosi se dogter, beweer die familie het verskeie kere ná die voorval met Van der Linde probeer kontak maak. Van der Linde het toe glo Sondag vir Modise via Whatsapp gekontak.

Maroela Media het die Whatsapp-boodskappe van Van der Linde aan Modise onder oë gehad.

In dié boodskappe sê Van der Linde dat sy hartseer is oor wat gebeur het en ʼn hegte band met Kokolosi gehad het.

Sy het in die boodskappe ook aangebied om Kokolosi se salaris in Modise se rekening in te betaal, aangesien sy Kokolosi glo gewoonlik in kontant betaal het.

Modise sê egter sy “soek haar nie naby haar ma nie”.

“Sy is net besorg oor haar honde en wil ʼn saak maak teen die bure wat my ma se lewe gered het. Sy is net kwaad oor wat met die honde gebeur het. Ek het ook vir die dokters gesê ek wil nie hê sy moet my ma besoek nie.

“Ek wou verlede week met haar praat oor wat gebeur het en hoe ons my ma kan help, maar sy het ons geïgnoreer. Daar is gesê haar prokureur sal met ons skakel. En toe kontak sy my uit die bloute. Ek was baie verbaas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

34 Kommentare

jongste oudste gewildste
Miskruier

Die buurman het geen ander keuse gehad nie, die vrou kon dood gewees het as hy nie opgetree het nie. N waghond is nie n aanvalshond nie. Sekere rasse is nie geskik vir huishoudings nie.

Blomme

Ai die voorval is tragies genoeg. Hoekom lyk dit asof daar nou ń oor en weer bakleiery en hofsake gaan uitspeel?

tierwyfie

Ek het werklik min simpatie met die honde eienaar. Ek hoop dat Kokolisi deur goeie dokters behandel word en dat sy so sal herstel dat sy weer die wêreld in die oë kan kyk. Sterkte aan haar en haar familie.

piet

Spyt kom te laat, onverantwoordelik gewees siende dat die honde al vantevore die huishulp aangeval het. Hoop hulle maak ‘n voorbeeld van haar en stuur haar tronk toe. Dagvaar sy nou die buurman? Kan jy nou meer, hoe lagwekkend……

Misky

Die dogter is te verstane nou kwaad na die gebeure, maar dis verkeerd om te sê Van Der Linde kan nie haar ma in die hospitaal besoek nie. Sy het tog lank vir haar gewerk en gaan sy nie, sal sy vir daai manier weer klipgooi en verwyte rondslinger. Aanvaar die hulp en staan by jou ma, los die beskuldigings Ms. Modise.