Vrou vertel van nagmerrie-aand toe sy inbreker doodskiet

Argieffoto

Die vrou (60) van Somerset-Wes in die Wes-Kaap wat Vrydag in die vroeë oggendure ʼn inbreker in haar huis doodgeskiet het, het Dinsdagoggend aan Maroela Media gesê sy en haar man het slegs twee maande terug na Somerset-Wes getrek.

“Dit was ʼn lewenslange droom wat waar geword het om in dié ‘veilige’ plek te kom woon,” het die vrou, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, gesê.

Sy getuig deurentyd van die Here se “onbeskryflike genade, krag en beskerming” wat oor haar gekom het tydens die voorval en loof die manier waarop almal, van die speurders tót die gemeenskap, haar bygestaan het ná die voorval.

Die vrou en haar 88-jarige ma was alleen in die huis tydens die voorval, aangesien haar man gaan jag het.

Sy vertel dat sy die aand onrustig was en omstreeks 01:00 ʼn geluid gehoor het. Sy het opgestaan, ligte aangesit en by die venster uitgekyk, maar niks buitengewoons gesien nie.

“Ek het weer in die bed geklim, maar kon nie slaap nie. Ek het opgestaan en gaan tee maak, terug in die bed geklim en Bybel gelees en gebid, want ek het so onrustig in my siel gevoel,” het sy gesê.

Die vrou het daarna ʼn derde keer opgestaan en by haar ma ʼn draai gaan maak om te kyk of alles pluis is. Toe sien sy ʼn flitslig in haar kamer en hoor ʼn geluid teen haar venster. Sy vertel hoe sy gehoor het hoe iets in die huis val en breek.

“Ek het opgespring, nie die lig aangesit nie en ʼn paar treë geloop. Toe sien ek die flitslig in die sitkamer en hierdie onbeskryflike vrees kom oor my. Omdat my man nie by die huis was nie, het ek met my rewolwer in my bedkassie geslaap. Ek het omgedraai, dit gaan haal, die vuurwapen oorgehaal en ek is terug sitkamer toe.”

Sy het die ligskakelaar aangeskakel en die man by die televisiestel sien staan. “Die venster was oop, my gordyne weggeskuif en die televisie se staander het omgeval. Hy het ʼn klapmus en geel handskoene aangehad en het dadelik ʼn mes gegryp toe hy my sien. Ek het vir hom geskree: ‘I’m going to shoot you, I’m going to shoot you!’ Hy het die groot TV opgetel, dit dwars gedraai en na my gemik en toe, soos ek dit skree, het ek ʼn skoot afgevuur.”

Die man het na haar toe begin hardloop met die televisie en sy het nog ʼn skoot afgevuur. “Hy het my met die televisie gegooi en ek het geval. Ons het begin worstel en hy het die rewolwer na my gesig toe gedraai. Ek het hard geskree: ‘Jesus! Jesus! Jesus!’ Met bonatuurlike krag het ek op my voete gekom. Hy het die klapmus afgetrek en gesê: ‘You are going to shoot me.’ Ek het vir hom gesê: ‘By God I won’t shoot you.’ Ek het nie haat nie, ek het nie ʼn wrok nie, ek is nie ʼn rassis nie. Al waaraan ek kon dink, is wat gaan hy met my ma doen as hy my nou hier doodskiet? Wat gaan hy met my ma doen? Ek het doelbewus vir sy bene gemik, ek wou hom net stuit. Ek kon hom maklik in sy kop geskiet het.”

Sy vertel dat die man se been reeds vol bloed was toe hy die klapmus afgeruk het. Hy het toe so op sy rug begin agteruit skuifel na die venster se kant toe. Die koeël is by die man se lies in en by sy boud uit en het vermoedelik ʼn hoofslagaar getref.

“Ek het vir my ma geskree om die polisie te bel, maar sy kon nie haar foon in die hande kry nie. Ek het met my foon die noodnommer geskakel, maar die vrou kon nie die straatnaam spel nie. Die man het by die venster uit en by die trappe af geseil en ek het gesien hoe val my ma se beursie, haar selfoon en ʼn skroewedraaier uit sy sak uit. Toe hy by die venster uitgaan, toe skree hy: ‘Clive! Clive! Clive!’ Toe weet ek daar is nog iemand.”

Haar buurman en gewapende reaksievoertuie het by die toneel opgedaag. Sy vertel hoe sy vir die aanvaller gesê het om stil te sit en dat die polisie en die ambulans op pad was. Sy het ook vir hom water gegee. “Die nooddienste het nog met hom gepraat, maar hy is net daar dood.”

Haar ma se selfoon het langs haar kopkussing gelê en die inbreker was vermoedelik ook in hul eetkamer asook studeerkamer. “Hy was reeds in die huis die drie keer wat ek ongewapend opgestaan het. Ek wil getuig dat dit die moeite werd is om die Here te dien. Dis nou al vier aande wat ek nie slaap nie – ek is die afgelope twee dae histeries. My man, wat dadelik teruggevlieg het, wil van sy kop af gaan. Almal het vir ons gesê ons is mal om palissades op te rig, want dis so veilig hier.”

Volgens haar kry sy nou oproepe van private nommers af waar niemand praat nie en iemand net asemhaal. “Ek het ʼn besluit gemaak dat ek nie daardie pad gaan volg nie. ʼn Mens moet doen wat jy kan doen om jouself te beveilig en dan is jy in God se hande.”

Die gesin bring nou talle ekstra veiligheidsmaatreëls rondom die huis aan.

Maroela Media het Maandag berig volgens kapt. FC van Wyk, woordvoerder van die polisie, is die oorledene, ʼn 32-jarige Malawiër, deur die polisie gesoek in verband met ʼn rooftog in Somerset-Wes, asook ʼn soortgelyke voorval in Gordonsbaai. Die polisie is besig met ʼn geregtelike doodsondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Anoniem ·

Moet asb nie skuldig voel dat hy dood is nie. Hoeveel ou mense word vermoor so maklik soos om ‘n vlooi tussen jou naels stukkend te druk?? Dit was hy, of jy en jou ma. Dankie jy het jouself en jou ma beskerm. Jou man kon vandag ‘n wewenaar gewees het, jou kinders sonder ‘n ma, jou kleinkinder sonder ‘n ouma… Sterkte aan almal wat getraumatiseer is deur die gebeure.

Jean ·

Te veel inlig…die Staat gaan haar weer die skuldige maak. Het die “slagoffer” nie dalk Cyril, Cyril, Cyril geroep nie…??

Mariaan ·

Dis nou goed gestel…Cyril….haha….baie skerp….dankie tog die dame kon hulle self verdedig…en nog goedhartig en gee vir hom water….as hy kon het hy na 2 slukke nogsteeds moord gepleeg…gelukkig was dit sy laaste sluk

Dapper ·

Keuses het gevolge…dit was die booswig se keuse om in te breek.

CJ ·

Ek loof saam met hierdie vrou en haar gesin die Here vir sy beskerming. Hoop egter sy kry so gou moontlik die bes moontlike sielkundige hulp en ondersteuning vir die verwerking van die trauma. Nou moet hierdie onskuldige vrou hierdeur worstel en ekstra onkostes aangaan oor iemand anders nie sy hande kon tuis hou nie (en weereens het die stelsel die onskuldiges in die steek gelaat). Ai toggie!

Wees versigtig ·

jaNEE NOU SAL die arme tannie weer vreemde oproepe ontvang om haar bang te maak en te dreig . obviously weet CLIVE en sy makkers waar sy bly . hou asb maar haar identiteit en adres uit die media uit anders gaan hulle lewens hel word .. Dis nou net weer die tannie wat vir hom nog water gee EN iemand bel om hom te help . wonder hoeveel aanvallers het al OOIT hulle slagoffers gehelp?

Liberaal ·

Natuurlik, liberaliste is vreeslik lief vir misdadigers, liberaliste is ontsleld as hulle hoor ‘n makker het tydens sy werk seergekry.

Mielie ·

Ek bid dat sy vrede en kalmte vir die vrou. Om daardeur te gaan moes aaklig en skrikwekkend gewees het. Sy het deur God se genade kopgehou en self baie menslik teenoor die inbreker getoon.

Fiela ·

Ek het so ongeveer 2 mde terug die Somerset Wes polisie geskakel oor n Malawier wat onwettig in die land is en by n besigheid in S -Wes werk. Niks is omtrent die saak gedoen nie.

Tina du Toit ·

Ek wil net vir jou sê, moet nie skuldig voel oor hy dood is nie. Onthou, dit kon baie leliker uitgedraai het. Ek ken daai gevoel dat God met jou is in nood. Ek was van die begin af so kalm soos `n dagga walm en het alles mooi beluister daar in die kas waar ek gestaan het. As ek nie geskiet het nie, was ons al 7 dalk dood. Sterkte vorentoe.

Nettie ·

Tannie, ek haal my hoed vir u af!!! U het – met die Here se beskerming – koelkop gehou. Die Hemel weet, as hulle darem dié tannie van moord aankla, sal ek van die eerstes wees om Mev. Sisulu daarop te wys dat hierdie ‘n swart-op-wit-rasgebaseerde haataanval was – deur ‘n MALAWIËR wat deur die ANC natuurlik in hierdie land INGENOOI was.

Vermeendes ·

Dame om n lewe te neem is nie deel van n Chrisen se aard nie en ook nie joune nie, jy was ongelukkig net die instrument wat hom moes stop. Ek weet dit is maklik om te praat maar raak rustig in jou gemoed en aanvaar dat dit selfverdediging was.
Sterkte aan jou en jou ma want hierdie vas nie jou toets nie, jou toets het sopas begin met die wette wat krimenele beskerm en vervolging wat jou nou in die gesig staar.
Sterkte.

Diefie ·

Dankie Vader dat u kalm kon bly. Sterkte en mag dit goed gaan met julle.

SPROETJIES ·

Prys die Here, dis net Sy handewerk. Pragtige getuienis, ons is dankbaar dat julle veilig is..Deur die HERE se genade alleen.

tamboti ·

NSA the country of opportunity for all African criminals: So much to take from sitting ducks, easy targets, sleeping giants, old and vunerable!

Anoniem ·

Mevrou, ek haal my hoed vir jou af! Jý is ‘n ware heldin! Moet jou nie vir een oomblik verknies oor ‘n inbreker wat nie sou huiwer om jou of jou ma te verniel en vermoor nie. Jy het die regte ding gedoen!

Lala land ·

Ek beaam volhartig die stelling dat dit die moeite werd is om die Here te dien. Ons gesin is geruk deur n plaas aanval in 2012. My pa is 3 keer geskiet, twee keer in die maag en een keer in die nek wat agter onder sy blad uit is en sy hart skrams gemis het. Daarna is my pa herhaaldelik geskop. My ma was aangerand en gedwing om te kyk wat hul aan my pa doen. In die hospitaal (na vele nood operasies) het my pa briewe geskryf en vertel dat n stem met hom gepraat het.

My pa het sy hande opgesteek en gesê “take whatever you want” toe hy die 5 gewaar – maar die een het steeds die wapen gelig na my pa se kop. My pa het die wapen gegryp. Dis toe dat my pa in die maag geskiet is. My pa het op sy kniee geval en die man het weer probeer om my pa in die kop te skiet. My pa het vorentoe geval en die 3e skoot is so bo sy nek en by sy blad uit.

My pa sê die stem was duidelik: as jy nie sy wapen gryp nie gaan hy jou dood skiet. My pa getuig dat hy daarna sonder vrees opgetreë het. Ek glo tot vandag dat die Here met my pa gepraat het en Hy daardie aand teenwoordig was en Sy hand van beskerming oor beide my ouers gehou het. Wonderbaarlik het my pa die voorval oorleef.

Cherie ·

Debora!!
My 1e gedagte..die trekmaatskappy het dalk n insider?(en jou nommer )

Riané ·

Julle moet die tv’s uit julle huise kry, daai afgodsding is soos ‘n kers vir die motte in die nag!

Gawie Botha ·

Die feit dat hierdie vrou paraat was,en dus n keuse kon uit oefen,haar geloof en waaksaamheid het alles bygedra dat sy oorleef!

Ou vrou ·

Die mens wat nie die simpatieke kant van kommentaar verstaan nie en dink die is n politieke grondslag vir kommentaar – julle is Welkom om dit te verklaar waar dit ons as Suid Afrikaaners – wat lewe in SA – se lewe kan positief verander – as jy niks kan se en of niks bydrae wat n verskil kan maak nie – se eerder niks!

Koos ·

Sjoe. Seker nie ‘n lekker ervaring nie maar as buitestaander wil ek haar gelukwens. Sy’t die plig om haar ma en haarself te beskerm enduit nagekom. En dan is daar nog talle Afrikaners wat altyd reken Malawiërs is meer betroubaar as ons eie landsburgers en wat hulle as butlers, tuiniers, plaaswerkers ens. in diens neem.

Nikita ·

Jesus ons Redder!! Jesus die Naam bo alle name!!! Sterkte tannie.

Afrikaner ·

Dit is so ironies… dat ons as Suid Afrikaners moet skuldig voel as ons ons families beskerm in ons eie huise… jy moet eerder met jou eie lewe betaal voordat jy jou familie en jouself mag beskerm teen skelms en die skelms wat buitelanders is… Liewe Here beskerm ons asb.

Sarie ·

Met verwysing na ‘n plaaslike artikel in Krugersdorp waar ‘n plaas eienaar in hegtenis geneem is vir poging tot moord met ‘n “paintball” geweer wat grond toe gevuur is na vele waarskuwings teenoor sy aanvaller wat hom met ‘n stok wou aanvaal, wil ek vra wat is onskuldige mense se regte wat hulself beskerm? Waarmee mag die onskuldige slagoffers hulself beskerm, met NIKS?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.